Eljada-Kairos Gholfdag ’n sukses, lok 59 spelers

Verteenwoordigers van Eljada-Kairos Skool saam met die wenners van die gholfdag. Van links is Margot Dawson, onderwyseres by die skool se outisme-eenheid en mede-organiseerder van die gholfdag; wenners Pieter Strauss en Billy Capel; en Hennie Baartman, skoolprinsipaal. Foto: Stefan Skapie Goosen

DIE Eljada-Kairos Skool op Oudtshoorn se jaarlikse Gholfdag het vanjaar net 59 spelers gelok, maar volgens die skool was dit steeds ’n suksesvolle dag, en sal die fondse wat ingesamel is bydra tot die skool se doelwit om ’n nuwe skoolbus – ten volle toegerus vir die leerders – aan te koop.

Volgens Hennie Baartman, skoolprinsipaal, het baie faktore daartoe bygedra dat daar minder spelers as voorheen was, “maar ons is vol waardering vir julle wat vandag hier is, en dus was die dag in ons oë ’n sukses,” het hy tydens die prysuitdeling gesê. Die dag het gesorg vir kompeterende gholf, maar ook bietjie samesyn, pret en plesier – en natuurlik ook pryse!

Met die 4-BBB-formaat spel, het Pieter Strauss en Billy Capel op ’n telling van 48 punte gewen. Ebenezer Titus en die jongeling Sergio Arries was kort op hul hakke met 47 punte.

’n Kruiwa vol drank is deur Deon Barnard gewen. (Deur Stefan Skapie Goosen)