Eden Straatmylreeks is terug!

Ryan Mphahlele, 2019 wenner. (Foto verskaf)

DIE Klein Karoo Atletiekfonds (KKAF) het aan die begin van Oktober aangekondig dat die immergewilde Eden Straatmylreeks weer vanjaar terug is in al sy glorie, en beloof om atletiek van top-gehalte te bied.

Die 2020-weergawe van hierdie populêre reeks is weens die Covid-19-pandemie ontspoor.

Volgens Dave van der Walt, KKAF operasionele bestuurder, sal die 2021-reeks weer uit drie bene bestaan; die Klein Karoo Straatmyl in Oudtshoorn op 16 Desember, die Swartberg Baanatletiek en -myl in Oudtshoorn op 18 Desember, en die ATKV Straatmyl in Hartenbos.

Dit word weer onder die beskerming van die KKAF in vennootskap met Atletiek SWD aangebied.

“Die uniekheid van hierdie reeks lê reeds in die feit dat elke dorp sy unieke straatmyl-identiteit behou, maar tog deel vorm van die Eden Straatmylreeks deurdat die Grand Prix-wenner oor aldrie byeenkomste bepaal word,” sê Van der Walt.

In die afgelope vier jaar is nie minder nie as agt droommyle in die reeks gehardloop – Johan Cronje (3:55.60), Dumisane Hlaselo (3:55.71), Elroy Gelant (3:56.74), Nyongo Amos (3:55.60 en 3:52.99) en Ryan Mphahlele (3:56.04 en 3:57.95).

Die straatmyle word in die volgende kategorië aangebied: Sub-juniors, Juniors, 40+ en Elite/Ope. Daar is ook weer pryse vir die eerste SWD-atlete oor die wenstreep. Die inskrywings word aanlyn gedoen en is alreeds oop.