17 jaar oud en reeds ’n tennis-kampioen

Liebe Oosthuizen van Langenhoven Gimnasium is op 17-jarige ouderdom ’n senior-tenniskampioen. Foto: Stefan Skapie Goosen Mede-Gimmie, Zander Petzer is ook opgeneem in die Eden Interpro-tennisspan. (Foto verskaf)

’N 17-jarige graad 11-leerling van Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn het tydens haar skoolvakansie aan die ETA Coca-Cola Prokennex nasionale senior tennistoernooi in Durban gaan deelneem en al die “ouer” vrouens uitgestof om terug te kom as vroue senior-kampioen.

Liebe Oosthuizen het van 7 tot 10 Oktober aan die toernooi gaan deelneem, en nie net spelers ouer as sy ore aangesit nie, maar haar plek op die nasionale senior vroue-ranglys na 21ste plek verbeter.

Hierdie toernooi is oop vir enige speler bo die ouderdom van 18.

Liebe sê haar teenstanders was almal nogal moeilik, en uit haar drie wedstryde het sy al drie gewen.

Maar hoe voel sy daaroor om op nasionale vlak so te presteer?

Die beskeie Liebe sê bloot; “dit is iets om te beleef, nogal lekker, en die hele ondervinding self om Durban toe te gaan was net so lekker. Ek gaan elke jaar soontoe, maar het nog nooit daar gewen nie.”

Liebe en mede-Gimmie, Zander Petzer is ook verlede kwartaal opgeneem in die Eden Interpro-tennisspan wat van 24 tot 27 September aan die interprovinsiale toernooi deelgeneem het. (Deur Stefan Skapie Goosen)