

Van links is Lian Verwey, William van Tonder en Francois Verwey. Van Tonder was die wenner van Oudtshoorn Parkrun 314 by die Surval Olyflandgoed met ’n tyd van 17 minute 58 sekondes, met beide Verwey’s so paar minute na hom oor die eindstreep. Annamarie Naude was die vrouewenner. Foto: Garnett Wicomb
EDEN FIETSRY se jaarlikse prysuitdeling het Saterdag (10 Desember) op Oudtshoorn plaasgevind, met talle fietsryers, bestuurders, afrigters en skeidsregters wat vereer is vir hulle harde werk gedurende 2022.
Die aand se hoofwenners was Oudtshoorn se ystervrou Yolande de Villiers, Senior Sportvrou van die Jaar; Tristan Nortjé, Senior Sportman; Anya du Plessis, Junior Sportvrou; en Cronje Beukes, Junior Sportman van die Jaar.
Tydens die verrigtinge is Protea-kleure oorhandig aan beide Nortjé en Du Plessis.
Daar is vanjaar ook ’n “Lifetime Achiever”-toekenning aan Johan Nicol, oud-Sprinkbokfietsryer wat in baanfietsry uitgeblink het, oorhandig.
Hy was ook die gasspreker van die aand.
Die Wes-Kaap “Roll of Honour”-toekenning is aan wyle Jean Nell toegeken, met sy ouers Johan en Loretta Nell wat dit in ontvangs geneem het.
Jean het in 2008 sy Protea-kleure verwerf en was geoormerk vir die Olimpiese Spele asook die Statebondpele.
Hy is ongelukkig in 2014 oorlede tydens ’n oefensessie op die Velodrome in Bellville.
Bestuurders van Eden het ook Wes-Kaap-kleure ontvang. Hulle is Jade Gerber, Daclon Aries en Sonja Schultz.
Eden beamptes wat Wes-Kaap-kleure ontvang het is Heindrich Greyffenberg, Karin Bence, Lee Aries en Daclon Aries.
Spesiale Toekennings is aan die volgende mense gegee:
Karin Bence – Eden “Merit Award” vir haar bydrae tot fietsry. Sy is die enigste gekwalifiseerde vroueskeidsregter in Suid-Afrika vir pad-, baan- en bergfiets.
Marike Vreken – Eden “Executive Award” vir haar bydrae as Eden Berg- fietsry verteenwoordiger en as afrigter van talle fietsryers in die streek.
Sonja Schultz – Eden “Presidents Award”. Schultz het hierdie jaar die Eden Sportraad se administrateur van die jaartoekenning, en ook die Burgemeesters-toekenning vir senior administrateur van die jaar verower.
Eden Fietsry het die geleentheid gebruik om ook hul borge en ondersteuners, sowel as plaaslike besighede en ander instansies te bedank vir hul bystand deur die jaar.