Drie van Wesbank Tennisklub gekies vir SA spanne

Van links is Elmarie Lategan, Jacques de Beer en Rida Bester vandeesweek op die oefenbaan. Foto: Garnett Wicomb

DRIE lede van die Wesbank Tennisklub op Oudtshoorn; Jacques de Beer, Rida Bester en Elmarie Lategan, is onlangs gekies as deel van die Suid-Afrikaanse senior tennisspanne wat eersdaags in Miami, Florida, in Amerika aan die 2022 Wêreld Seniors Tenniskampioenskappe sal gaan deelneem.

De Beer is as kaptein van die 50-plus mansspan gekies, en Bester as lid van die 55-plus vrouespan waarvan Christine van Coller, ’n voormalige lid van die Wesbank Tennisklub wat tans in Hartenbos woonagtig is, as kaptein aangewys is.

Volgens De Beer is daar 24 spanne in sy afdeling met Amerika wat eerste gekeur is, terwyl 18 lande in die 55-plus vrouetoernooi mekaar van 1 tot 6 Mei die stryd sal aansê. Hulle gaan ook die week daarna aan die individuele kampioenskappe deelneem.

Lategan is ingesluit in die 75-plus vrouespan wat reeds sedert Sondag (24 April) tot 30 April ook in Boca Raton, Miami, speel. (Deur Garnett Wicomb)