Bridgton RFC wen momentum met taai oorwinning oor Evergreens

Foto's verskaf.

Bridgton RFC het die afgelope naweek hul goeie vorm voortgesit toe hulle Evergreens op hul tuisveld gaan klop het in ’n reeks opwindende wedstryde.

Die span wys vanjaar deurgaans dat hulle kwaliteit rugby speel, en hul prestasies plaas hulle tereg onder die gunstelingspanne van die dorp.

Die dag se aksie het afgeskop met die C-span wat eerste aan die beurt was. Hulle het die voortou geneem met ’n sterk en gefokusde vertoning en hul teenstanders met 18-10 geklop.

Die span het goeie dissipline en samewerking getoon, wat hulle in staat gestel het om die wedstryd te beheer en die oorwinning veilig te stel.

Die B-span het daarna oorgeneem en was eenvoudig te sterk vir hul opponente.

Met ’n indrukwekkende spelplan en kragtige uitvoering het hulle hul wedstryd oortuigend met 28-5 gewen. Hul verdediging was rotsvas en hul aanvalle klinies, wat min ruimte vir Evergreens gelaat het om terug te veg.

Die hoogtepunt van die dag was egter die A-span se wedstryd, wat vir groot spanning gesorg het. Bridgton het aanvanklik gesukkel om momentum te bou, maar het karakter gewys deur elke geleentheid te benut om punte aan te teken. Dit was ’n naelbytstryd waar beide spanne vasbeslote was om as wenners van die veld te stap.

Uiteindelik het Bridgton met ’n noue telling van 37-35 geseëvier. Albei spanne het duidelik opgedaag met die doel om te wen, maar dit was Bridgton wat op die dag die beter span was. Hul vermoë om onder druk te presteer en geleenthede te benut, het die deurslag gegee in hierdie strawwe ontmoeting.

Met hierdie oorwinning bou Bridgton voort aan hul indrukwekkende seisoen en versterk hul reputasie as een van die mees kompeterende spanne in die liga. Die span se harde werk en toewyding begin nou werklik vrugte afwerp.

Alle oë is nou gerig op die komende naweek wanneer Bridgton teen die Barbarians indie plate te staan kom.
Ondersteuners sal hoop dat die span hul wenmomentum kan voortsit en nog ’n sterk vertoning kan lewer.
Die wenner van die wedstryd sal bo-aan die punteleer eindig. (GRANWILLE GOLIATH)