’N NUWE jaar, ’n nuwe wedloop met nuwe uitdagings, maar dit is al wat skynbaar verander, want Saterdag het Lloyd Bosman (Nedbank) vir die vyfde agtereenvolgende jaar De Rust se Optimum Meiringspoort half-marathon gewen.
En dit is nie dat die 34-jarige enigsins stadiger raak nie. Bosman se wentyd van 01:01:36 is ’n nuwe roeterekord. Die Nedbank-atleet meen hy is tot nog vinniger tye instaat.
Saterdag het hy van meet af aan voorgehardloop. Dit was ’n geval van hoe later hoe kwater. Na 10 km het hy begin om sy pas met elke tree te versnel.
“In die opbou na die wedloop het ek harde ‘kilos’ ingesit. Daarom was ek nie bang om myself ‘diep in die rooi’ te druk nie.’ Dit het vrugte afgewerp en beteken baie vir my selfvertroue.”
Bosman se twee oefenmaats, Godwin Heyns (01:05:39) en Bernardo Fredericks (01:06:21), was onderskeidelik 2de en 3de. Volgens Fredericks is dit sy vinnigste tyd in sewe jaar.
Dis slegte nuus vir enige atleet met drome om die Meiringspoort 21km-wedloop te wen, en dat Bosman nie net gaan bes gee nie. Hy is bereid om nog vinniger te hardloop as dit moet om die Poort se kampioen te bly.
Op ‘n vraag of hy dink hy weer kan wen, het hy spottend geantwoord dat hy ten minste vir die volgende tien jaar wil wen.
Veteraan-atleet Hanlie Botha (Born 2 Run) het die vroue-wedloop in ’n rekordtyd van 01:18:55 gewen. Haar tyd is die vinnigste in 12 jaar deur ’n vroue-atleet. Algeheel was sy negende.
Dit was haar eerste Meiringspoort Marathon en het sy gesê “Dit was ’n onbeskryfbare mooi ervaring”.
Nog ’n veteraan Melissa van Rensburg (Nedbank) was die 2de vrou oor die eindstreep met ‘n tyd van 01:25:59. Van Rensburg wat in George woon was agterna effens teleurgesteld.
“Ek is nie so fiks as wat ek moet wees nie so vandag (Saterdag) het ek soos ’n ware veertigjarige gehardloop.”
Draf is vir Van Rensburg ’n manier om haar “kop skoon te kry.”
“Baie keer word daar vir ons padatlete gesê ons is ‘mal’. Al wat ek weet is dat elke dag as ek draf vind ek oplossings vir al die probleme in my lewe.”
Anel van Wyk, bekende van Oudtshoorn in die hardloop sirkels (Nedbank) het die wedloop in 01:29:40 voltooi om 3de te eindig.
Selwyn Matthews (Nedbank) het die 12.5 km-wedloop in 38:55 gewen. Jandri Snyders (Hartenbos) was die vroue-wenner. Haar wentyd is 54:21. (Deur Wilhelm de Swardt)
Bosman wen Meiringspoort Marathon vyfde keer in ’n ry
Lloyd Bosman op pad om sy vyfde Meiringspoort Marathon te wen.
Foto: www.oakpics.com