45ste Freda Barnard-swemgala lewer puik prestasies

Foto: Granwille Goliath

Die 45ste Freda Barnard-swemgala het van 1 tot 4 Oktober 2026 by die N.A. Smit-swembad in Oudtshoorn plaasgevind en het weer eens gewys waarom die geleentheid ’n belangrike deel van die plaaslike swemkalender is.

Die Frede Barnard swemgala word deur Fish Eagle Aquatics aangebied onder Eden Aquatics. Altesaam 36 swemklubs met sowat 520 swemmers van regoor die land het aan die gala deelgeneem.

Swemmers van verskillende ouderdomme het hul vaardighede en deursettingsvermoë in die swembad ten toon gestel. Ondanks uitdagende weers-omstandighede het die deelnemers steeds uitstekend gevaar en voluit meegeding.

Die gala het aan jong swemmers die geleentheid gebied om hul potensiaal te wys, waardevolle ervaring op te doen en hulself teen sterk kompetisie te meet.

In die dogtersafdeling het Scarlett MacDonald van Waterbender Aquatics Club-ED die eerste plek behaal. Die 10-jarige swemmer het ’n indrukwekkende 277 punte aan-geteken. Shaylee Scheffer, ’n 12-jarige van Marlin Swimming Club-CP, het met 230 punte die tweede plek behaal. Mia M. Thompson, ’n 11-jarige van Bay Eagle Swim Team-NM, het derde geëindig met 223 punte.

In die seunsafdeling het Declan Kruger van Blouberg Marlins-CP met 281 punte die eerste plek behaal. Die 12-jarige swemmer is gevolg deur die 10-jarige Matthew Bland van Barracudas Aquarama SC-CP, wat 254 punte aangeteken het. Gunther J. Askevold, ook van Blouberg Marlins-CP, het met 249 punte die derde plek behaal.

Die sukses van die 45ste Freda Barnard-swemgala beklemtoon die belangrikheid van sulke byeenkomste in die ontwikkeling van jong swemtalent.

Swemliefhebbers kan reeds uitsien na die 46ste Freda Barnard-swemgala, wat van 30 September tot 3 Oktober 2027 sal plaasvind. (GRANWILLE GOLIATH)

Be the first to comment on "45ste Freda Barnard-swemgala lewer puik prestasies"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*