Eden Open 2026 bring tafeltennisspelers van regoor die streek

Foto: Granwille Goliath

Die jaarlikse Eden Open-tafeltennistoernooi het van 1 tot 4 Oktober 2026 by die De Jager-sportkompleks in Oudtshoorn plaasgevind en het weereens spelers van verskeie klubs en streke bymekaargebring. Altesaam 22 klubs en 145 spelers, waarvan 75 juniors was, het aan die toernooi deelgeneem. Vyf streke was verteenwoordig.

Die kompetisie het sterk deelname in verskeie ouderdoms- en senior-afdelings gelewer, met spelers wat in enkelspel, dubbelspel, gemengde dubbelspel en spanbyeenkomste meegeding het.

Duinefontein het die medaljetabel oorheers met 13 goue, vyf silwer- en tien bronsmedaljes vir ’n totaal van 28 medaljes. Boundary het tweede geëindig met vyf goue en twee sil-wermedaljes, terwyl Bounce derde was met drie goue medaljes.

MP Royals het 11 medaljes verower, bestaande uit twee goud en nege brons, terwyl George 17 medaljes ingepalm het, insluitend een goud, tien silwer en ses brons. TOP het met 30 medaljes die grootste totale medalje-oes gehad, bestaande uit een goud, vier silwer en 25 brons.

Njongo Ngqula het die goue medalje vir seuns onder 13 ingepalm. Hy verteenwoordig TOP tafeltennis- klub.

Onder die uitblinkers was Tamika van As van Boundary, wat die o. 15- en o. 19-meisies-enkelspel gewen het.

Waydin Brown van Duinefontein het die o. 15- en o. 19-seunsafdelings gewen, terwyl Rukaya Davids van MP Royals as wenner in beide die o. 11- en o. 13-meisiesafdelings gekroon is.

Xhaiden Williams van Eden (George tafeltennisklub) het goeie spel gelewer, maar ongelukkig vasgeval in die onder 19 seuns finaal.

In die seniorafdelings het Musfiquh Kalam van Boundary die vroue-enkelspel gewen, terwyl Shane Overmeyer van Bounce die mans-enkelspel en ook die mans 40+-afdeling gewen het.

Die Eden Open het nie net ’n platform vir gevestigde spelers gebied nie, maar ook aan die groot groep juniors waardevolle blootstelling en mededingende ervaring gegee. Die suksesvolle toernooi beklemtoon die groei en ontwikkeling van tafeltennis in die Eden-streek en Oudtshoorn. (GRANWILLE GOLIATH)

Be the first to comment on "Eden Open 2026 bring tafeltennisspelers van regoor die streek"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*