Deelnemers aan die 2026 Meiringspoort21-wedloop kan vanjaar ’n effens ander uitdaging verwag nadat welkome reën in die Karoo die oorspronklike Middelplaas-roete ontoeganklik gemaak het.
Ligte reën het die afgelope tyd in die gebied geval, met verdere reën wat gedurende die week voorspel word. Die nat toestande het veroorsaak dat dele van die beplande Middelplaas-roete onder water is. Die organiseerders moes daarom die roete inderhaas verander om die veiligheid van deelnemers te verseker.
Die 2026-wedloop sal nou weer volgens die bekende “punt-tot-punt”-formaat aangebied word. Die alternatiewe roete sal hoofsaaklik op die Uniondale-pad, die R341, verloop.
Soos in die verlede sal deelnemers per vervoer na hul onderskeie beginpunte geneem word, terwyl die eindpunt onveranderd op die kerkterrein bly.
Die 12,5 km-roete begin op ongeveer 380 meter. Die roetes is slegs op die teerpad tot in die dorp, met die laaste kilometer op die ou roete tot by die eindpunt op die kerkterrein.
Die 21,1 km-roete begin op ongeveer 518 meter. Die organiseerders waarsku dat die alternatiewe roete se profiel moontlik moeiliker kan wees. Ten spyte hiervan word daar steeds gepoog om deelnemers ’n veilige en onvergeetlike ervaring te bied.
Weens veiligheids- en logistieke oorwegings sal die 12,5 km-afstand met ongeveer 1 km verkort word.
Die organiseerders vra om verskoning vir die veranderinge en beklemtoon dat dit weens omstandighede buite hul beheer noodsaaklik geword het.
Ten spyte van die uitdagings bly die organiseerders dankbaar vir die broodnodige reën en waardeer hulle deelnemers se ondersteuning en begrip. (GRANWILLE GOLIATH)
Reën dwing verandering aan Meiringspoort21-roete
Die Meiringspoort-wedloop van 2025. Foto verskaf.
Be the first to comment on "Reën dwing verandering aan Meiringspoort21-roete"