Opwinding, glimlaggies, en selfs ’n paar trane vir 2023 se Graad 1’s

Moet ek regtig egtig skool toe gaan? Dié graadeentjie by Colridge Primêre Skool het sy eerste skooldag tranerig begin. Die trane het gelukkig gou-gou opgedroog. Foto: Ebenezer Titus

GROOT opwinding het gister op Oudtshoorn geheers met talle kindertjies wat die eerste dag van hul amptelike skoolloopbaan aanpak.

Daar was groot glimlaggies op gesiggies, met skoolklere wat soms tot onder die knieë hang, en skooltassies wat amper die kleine lyfies verbloem.

Kleurvolle potloodsakkies, naambordjies en stoelsakkies het tafeltjies versier.

Die Hoorn het by ’n paar Laerskole in Oudtshoorn gaan inloer om te gaan kyk hoe gaan dit met die nuwe maatjies gaan.

In sommige klassies was die maatjies reeds hard aan die werk om te leer van letters en hoe hulle geskryf word.

In ander klassies was die juffrou besig om ’n lekker opwindende storie vir maatjies te vertel en vragies te vra, terwyl daar snoesig op die mat gekuier word.

Een juffrou moes bontstaan om seker te maak dat al die kindertjies se gesiggies op die foto vasgevang word, en die glimlaggies kon nie breër gewees het nie.

Die Hoorn het aan een groepie gevra of hulle van skool hou, en die antwoord was ’n groot “ja”.
Een klassie kon nie vinnig genoeg vertel hoe baie hulle van hul vriendelike juffrou hou nie.

Een ding bly wel seker, dat daar baie ouers met hartseer harte vandag is omdat hul kinders so ongelooflik gou groot word en die haasbekkies ’n belangrike nuwe rol en uitdagings in hul lewe aanpak.

Sterkte aan elke Graad 1 leerder, sy/haar ouers en ook vir die volgende 12 jaar wat voorlê.
Ons dink ook aan al die onderwysers en die groot verantwoordelikheid wat vir hul voorlê. (Deur Angelique Erasmus)

Coleridge Primêre Skool

Die emosies van kinders vasgevang op hul eerste skooldag. Bergsig Primêr, Sacred Heart Primêr en Colridge Primêr. Foto’s: Ebenezer Titus. Laerskool Laurus en Laerskool Wesbank. Foto’s verskaf

Bergsig Primêr

Sacred Heart Primêr

Laerskool Laurus

Laerskool Wesbank