Skillie met veselglas dop terug berg toe

Hierdie bergskilpad is ’n hele paar gelede deur dr. Glen Carlisle behandel toe hy ’n gat in sy dop gehad het. Dit is met veselglas toegemaak. Foto Verskaf

GROOT was dr. Glen Carlisle se verbasing, toe hy en ’n ou “pasiënt” se paaie onlangs weer gekruis het.

“Ek het ’n hele paar jaar gelede hierdie spesifieke bergskilpad, wat ongeveer 30 jaar oud is, behandel toe sy dop stukkend was,” vertel hy aan Die Hoorn.

Die skilpad is by die Cango Wildlife Ranch afgelaai nadat dit in ’n parkie in die hospitaal- uitbreiding in Oudtshoorn ontdek is.

Werknemers van die Cango Wildlife Ranch het ’n foto van die skilpad aan Carlisle gestuur en gevra of die veselglasdop sy handewerk is. Carlisle het hom dadelik herken.

Volgens Carlisle bring mense gereeld skilpaaie na hom toe wat beseer is, gewoonlik wanneer hulle deur motors raakgery word of booswigte wat hul doppe met klippe stukkend gooi.

“Ek behandel maklik 10 beseerde skilpaaie per jaar,” sê hy.

Skilpaaie het die vermoë om hul doppe weer terug te groei, maar dit is ’n baie lang, stadige proses.

Daarom word glasvesel gebruik om die dop te las om sodoende die ingewande van die skilpad te beskerm. Bergskilpaaie (Geochelone pardalis) kan ouer as 50 word en is baie algemeen in die Klein Karoo. Volgens Carlisle is hulle ’n integrale deel van Oudtshoorn en die omgewing se fauna.

Werkers van Cango Wildlife Ranch het die skilpad in die berge naby die Kango Grotte gaan vrylaat. (Deur Angelique Erasmus)