NA ’n wonderlike matriekafskeid wat nou êrens in die 2022 matrikulante se geheues rondswem, het die spanningsvolle wagtyd vir hul uitslae, moontlik op 20 Januarie vanjaar, vir matrieks aangebreek.
Die Kannaland-streek, wat dorpe soos Ladismith en Calitzdorp met drie hoërskole en een onafhanklike skool insluit, het die afgelope tyd ’n toename in selfdood onder meestal jongmense gesien.
In baie gevalle is negatiewe matriekuitslae die oorsaak, wat landwyd lei tot hierdie tragiese daad. Sommige alreeds voor die uitslae, maar meeste na die uitslae vrygestel is.
Die Hoorn het met dr Shanaaz Hoosain, senior lektor in sosiale ont-wikkeling aan die Universiteit van Kaapstad gesels om raad en leiding vir matrieks en hul ouers te gee.
Volgens Hoosain het ’n onlangse studie bewys dat 22% van jongmense selfdood oorweeg.
’n Gebrek aan die voorsiening in hul basiese behoeftes, maar ook afknouery, seksuele mishandeling en gesinsgeweld word as redes vir selfdood genoem.
Hoosain sê dat die vrees vir mislukking om aan hul ouers, opvoeders en familie se verwagtinge te voldoen, matrikulante selfdood laat oorweeg.
Sy voeg by dat depressie die een geestesgesondheids-oorsaak is vir selfdood.
Eensaamheid, hartseer, onttrekking van die samelewing, veranderende gedragspatrone en ’n gebrek aan eetlus is van die gevaartekens is waarop ouers moet let, beklemtoon Hoosain.
Jeugdiges moet verseker wees van ’n goeie ondersteuningsbasis, waar hulle menswees nie aan hul prestasies gekoppel word nie. “Ouers mag verwagtinge hê, maar moet waak daarteen om verwyte rond te slinger indien die leerder nie aan die ouer se verwagtinge voldoen het nie, of om hul kind se uitslae met ander te vergelyk,” sê Hoosain.
Sy sê jongmense moet eerder aangemoedig word om oor hul vrese te praat, en ’n vertroueling met genoeg ervaring moet vind.
Volgens Hoosain moet matrieks besef dat druip nie die einde van leerproses beteken nie.
“Leer is ’n aanhoudende proses,” sê sy, en voeg by dat matrieks altyd die moontlikheid van hernasien moet ondersoek indien hulle sou druip, of nie die verwagte uitslag in ’n vak behaal het nie.
Dan is daar kolleges vir verdere onderwys en opleiding, soos byvoorbeeld die Suid-Kaap Kollege op Oudtshoorn en kolleges elders in die land wat ekwivalente van ’n matrieksertifikaat aanbied.
Hoosain versoek ouers om geen dreigemente soos die ontneem van voorregte indien die leerder onsuksesvol is te uiter nie en sy verskaf dan ook hierdie tolvrynommer, 0800 567 567, die Suicide Crisis Line wat 24 uur per dag in al elf amptelike landstale gereed is om hulp aan mense in nood te verskaf. (Deur Deon Meyer)
Matriekuitslae: Die spanningsvolle wagtyd
Dr Shanaaz Hoosain in gesprek.
Foto: Deon Meyer