Ouers betoog voor skool weens beweerde rassisme

Ouers van swart leerders op Oudtshoorn het Woensdagoggend ’n optog voor die hekke van die Hoërskool Oudtshoorn gehou weens hul ontevredenheid dat hul kinders volgens hulle nie in die skool toegelaat word nie. Foto’s: Stefan Skapie Goosen

’N GROEP hoogs-ontstelde ouers van swart leerders op Oudtshoorn het Woensdagoggend voor die Hoërskool Oudtshoorn se Voortrekkerweg-ingang betoog omdat hul kinders volgens hulle toelating tot die skool geweier is.

Onder die wakende oog van talle polisie-beamptes, onder meer die publieke orde polisiërings-eenheid, het die groep hul kommer per memorandum aan die skoolhoof, Gerrit Rudolph oorhandig.

Een van die leiers van die groep het die skare en vir Rudolph toegespreek en gesê dat rassisme op skole-vlak nie in Suid-Afrika hoort nie. Volgens hom is daar meer as genoeg spasie in die skool om die sowat 17 leerders, wat na bewering toegang geweier is, te akkommodeer.

Hy het bygevoeg dat daar nie ’n enkele skool in Oudtshoorn is wat leerders al ooit geweier het nie, behalwe sogenaamde “wit skole”.

In die memorandum word onder meer bewe-rings van ’n rassistiese agenda by die skool genoem, dat die skool nie spesifiek hierdie studente tegemoet wil kom nie, dat die huidige skoolhoof en skoolbeheerliggaam rassisties is, dat daar rasgedrewe boelievoorvalle by die skool was, en dat die skoolbeheerliggaam en onderwysers nie verteenwoordigend van die skool se demografie is nie.

Volgens die beswaarde ouers het die hoeveelheid leerlinge by die skool drasties afgeneem en dat daar dus plek is vir die leerders.

Hulle beweer ook dit is die skoolhoof en skoolbeheerliggaam wat die kinders wegwys weens hul ras en taal.

Een van die groep se woordvoerders het gesê hulle wil nie baklei nie, maar gesprekke met die skool begin om hierdie en ander kwessies aan te spreek.

Die Hoorn het die skool vir terugvoer genader, maar is verwys na die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD). Volgens Bronagh Hammond, woordvoerder van die WKOD, is die skoolbeheerliggaam verantwoordelik vir toelatingsbesluite by die hoërskool.

“Die skool het wel drie bykomende leerders toegelaat ná die formele appèlproses.

“Die departement het ondersteuning gebied om ’n bykomende klas by te voeg, maar het eerder alternatiewe plasing vir die oorblywende leerders gereël.

“Ons is nou almal gefokus op ’n medium-termynplan om toelatingsdruk in Oudtshoorn te hanteer, en Hoërskool Oudtshoorn het hul daartoe verbind om deel van hierdie plan te wees,” het Hammond gesê.

• Polisie en verkeersbeamptes was op die toneel om die vrede te bewaar en om te verseker dat verkeer glad verby die skool kon beweeg. Een baan voor die skool was gesluit vir verkeer. (Deur Stefan Skapie Goosen)