DIE Groter Oudtshoorn munisipale raad sal vandag (Donderdag, 19 Januarie), 15 jaar nadat dit voltooi is, vir die eerste keer die nuutgeboude raadsaal gebruik vir ’n spesiale raadsvergadering. Dié raadsaal lê tussen die munisipale gebou in Voortrekkerweg, en die bekende munisipale bur-gersentrum.
Volgens die speaker van die raad, Johan Allers (VF Plus), is planne vir die “Nuwe Raadsaal” – soos daarna verwys word – reeds in 2006 deur die raad van daardie tyd goedgekeur, waarna die bouproses in 2007 begin en die gebou in 2008 voltooi is.
Vanjaar word dit uiteindelik in gebruik geneem.
“Dit is sinneloos om ’n nuwe gebou te hê wat nie gebruik word nie. Hierdie nuwe raadsaal gaan die raad in ’n nuwe tegnologiese era instuur. Daar is meer veiligheid vir raadslede en die publiek, en meer infrastruktuur om goed soos rekenaarskerms op die mure te plaas sodat voorleggings makliker gedoen kan word, en alles nie op papier geskied nie,” sê hy.
Die rede dat die sogenaamde “nuwe raadsaal” so lank nie gebruik is vir sy eintlike doel nie, sê Allers “uit ’n politieke oogpunt”, is dat niemand die “wilskrag” gehad het om dit in werking te stel nie.
“Niemand het gesê ‘hoor hier, kom ons skuif na die nuwe raadsaal toe’, soos wat die naam is – dit is dan die nuwe raadsaal,” maan hy.
Die ou raadsaal wat in die munisipale gebou in Voortrekkerweg gehuisves is, en wat baie historiese waarde vir die dorp het, sal volgens Allers nie tot niet gemaak word nie.
“Die nuwe raadsaal word omring deur die burgemeesterskomiteelede se kantore, wat dit net makliker maak om daardie raadsaal te gebruik. Die ou raadsaal sal steeds gebruik word vir komitee-vergaderings, koukusse en dies meer,” sê hy.
Veiligheid vir raadslede is ook beter by die nuwe raadsaal. Volgens Allers is die gang wat buite die ou raadsaal was – wat vir raadslede, amptenare en die publiek toeganklik was – nie geskik nie.
“Jy kan nie jou raadslede daar beskerm nie, want almal kom in dieselfde gang af, almal is in dieselfde area. Die nuwe raadsaal laat toe dat daar darem ’n skeiding tussen raadslede en die publiek is, net ingeval iemand van die publiek ontstoke of kwaad raak, en geweldadig wil optree.”
Die nuwe raadsaal beskik ook oor aparte ingange vir raadslede en die publiek.
Raadslede sal vanaf hul kantore, aan die kant van die raadsaal kan toegang hê, terwyl die publiek van die ou fontein se kant af op die hoek van Voortrekker- en Langenhovenweg, deur ’n veiligheidskontrolepunt agter die raadsaal toegang verkry.
Verdere aanpassings aan die publiek se deelname aan raadsvergaderings sal ook nog bygebring word.
Volgens Allers sal ’n “glasskeiding” tussen waar die raadslede sit en waar die publiek sal sit aangebring word, met genoeg sitplek om inwoners tegemoet te kom. Vir die eerste raadsvergadering Donderdag, sal tydelike sitplekke vir inwoners beskikbaar wees.
“Die glasskeiding en permanente sitplekke word nog beplan en sal so gou moontlik opgerig word.
Indien daar moontlike oortollige fondse in die huidige finansiele jaar se begroting is, sal ons dit dalk daarmee doen, anders sal ons begroot daarvoor in die nuwe finansiële jaar,” sê hy.
Die beplande skerms, waarvan daar drie sal wees, sal dit ook vir inwoners makliker maak om die raadsvergadering uit hul sitplekke agter in die saal te volg.
Die skuif van die raadsaal het oor Desember plaasgevind. “Ek het aan die einde van November besef die ou raadsaal werk nie meer nie, want dit sit reg langs die hoofpad. As daar vragmotors verbykom, of ’n rits motorfietse, dan moet mens die persoon wat praat eers vra om te wag totdat die geraas verby is. By die nuwe raadsaal is daar geen geraas van buite nie.”
Volgens Allers was daar nog geen raadslede wat amptelik gekla het oor die verskuiwing van die raadsaal nie, al was daar kommer dat die ou raadsaal en sy geskiedkundige belang verlore sal gaan.
“Ek wil almal verseker dat dit nie die geval sal wees nie. Die ou raadsaal sal nog steeds gebruik word,” het hy beklemtoon. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Nuwe raadsaal wat vir 15 jaar leeg staan uiteindelik gebruik
Speaker van die Groter Oudtshoorn-raad, Johan Allers (VF Plus), in die nuwe raadsaal.
Foto: Stefan Skapie Goosen