By Saterdag se leerderberaad op Oudtshoorn was van links Colan Sylvester, burgemeester van Oudtshoorn, Haidee Muller van RSG wat die gasspreker van die dag was, en Danie van Wyk en Fernando Tallie van Fedsas wat die beraad aangebied het. Foto: Garnett Wicomb
Deur Garnett Wicomb
DIE Federasie van Suid-Afrikaanse Skoolbeheerliggame (Fedsas) het verlede Saterdag sy sewende leerderberaad van die jaar vir hoofleiers van hoërskole op Oudtshoorn aangebied.
Die beraad vind volgens Danie van Wyk, Wes-Kaapse bestuurder van Fedsas, jaarliks in verskillende dorpe plaas. By die beraad word gefokus op leierskapontwikkeling en opleiding in die rolle en funksies van die hoofseuns en -meisies. Dit word in samewerking met die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) en die betrokke munisipaliteit aangebied.
Altesaam 70 leerders van 14 hoërskole in en om Oudtshoorn het Saterdag se suksesvolle beraad bygewoon.
“Leerders wat dien in skoolbeheerrade, vorm deel van hierdie opleiding om te verseker dat die skoolbeheerliggaam die insette van leerders by die skool akkommodeer en waardeer,” sê Van Wyk.
Van Wyk het die opleiding in die rolle en funksies van die leerders hanteer terwyl ’n kollega, Fernando Tallie, leierskapsontwikkeling hanteer het.
Haidee Muller van Radio Sonder Grense (RSG), wat as gasspreker opgetree het, het die leerders geïnspireer en bewus gemaak van hul uniekheid en hoe verandering by elke individu begin.
Die burgemeester van Oudtshoorn, Colan Sylvester, het die leerders verwelkom. Hy het die belangrikheid van verantwoordelike leierskap be- nadruk en bygevoeg dat hulle die leiers van die toekoms is.
“Dit is julle taak om jul skole en gemeenskappe te verbeter en daarmee uiteindelik van Suid Afrika ’n wenland te maak,” het hy gesê.
Volgens Van Wyk is dit vanjaar die vierde jaar dat die leerderberade deur Fedsas aangebied word.
Die ander berade was in Kaapstad, Moorreesburg, Paarl, Worcester, Caledon, Bredasdorp, en George.