Moord en verkragting: Man van Ladismith skuldig bevind

Deur Garnett Wicomb
DIE vonnisoplegging van ’n man van Ladismith wat aan moord, verkragting en verbreking van ’n beskermingsbevel skuldig bevind is, is in die streekhof op Ladismith na die slotbetoë van die staat en die verdediging tot volgende maand uitgestel.

Die 49-jarige Willem Botha, wat voordat sy verhoor kon begin by vier geleenthede van regsverteenwoodiger verander het, is daaraan skuldig bevind dat hy op Nuwejaarsdag 2016 die 37-jarige Sarah January verkrag en daarna met ’n groot klip teen die kop gekap en sy gesterf het.

Botha het January agtervolg toe sy hom gewaarsku het dat sy ’n saak teen hom by die polisie gaan maak.

Hy het onskuldig gepleit op ’n aanklag van moord, maar wel skuldig op ’n alternatiewe klagte van strafbare manslag omdat hy nie bedoel het om January dood te maak nie.

Botha is ook daaraan skuldig bevind dat hy ’n beskermingsbevel verontagsaam het wat sy saamleefmaat, Ella Prins, verkry het.

Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof vir twee lewenslange vonnisse gevra omdat geen wesenlike of dwingende omstandighede bestaan om daarvan af te wyk nie.

Botha se regsverteenwoordiger het betoog dat ’n vonnis van 20 jaar ’n gepaste vonnis sal wees.

Die saak dien voor streeklanddros LA Wilken en vonnisoplegging is uitgestel tot 8 November.