Helikopter-vlieënier wat sterf gewese Oudtshoorniet

DIE 65-jarige helikoptervlieënier wat Dinsdagoggend oorlede is in ’n heli-kopterongeluk by Vermaaklikheid aan die Suid-Kaapse kus, het in ’n stadium op Oudtshoorn gewoon.

Nico Heyns van Knysna, ’n ervare vlieënier wat al baie lewens met sy bystand tydens verskeie brande gelewer het, het met ’n helikopter van Werk vir Vuur ’n brand by Vermaaklikheid help blus toe die helikopter neergestort het.

Heyns is op slag dood.

Hy word deur drie kinders, ’n seun en twee dogters, oorleef.

Een van Heyns se jarelange en beste vriende, Gerhard Meyer wat buite Oudtshoorn woon, sê Heyns het sy verlof onderbreek om met die blus van die brande te gaan help.

Volgens kapt Malcolm Pojie, woord­voerder van die Suid-Kaapse Polisie, word ’n geregtelike doods­ondersoek deur die polisie na die ongeluk gedoen.

Hy het gesê volgens ’n voorlopige ondersoek wil dit voorkom of Heyns moontlik beheer oor die helikopter verloor het waarna dit neergestort het.