Katryntjie-kleuters se pragtige groentetuin!

Kleuters van die Katryntjie Dag- en Nasorgsentrum op Oudtshoorn met ertjies uit die groentetuin wat hulle self aangelê het.
Foto verskaf

ALMAL by die Katryntjie Dag- en Nasorgsentrum in Oudtshoorn loop breëbors rond oor die pragtige groentetuin wat dié skool se vyf- en sesjarige kleuters aangelê het!

Volgens die prinsipaal van die skool, Katrina Fortuin, is die kleuters ingelig oor die droogte en die waterbeperkings wat op die dorp geld. Hulle is ook geleer hoe om water te spaar, deur die water van elke handewas asook reënwater op te vang om hul tuin groen te hou.

Die kleuters het reeds hul eerste ertjies gepluk en uitgedop en kan nie wag dat die spinasie, wortels, beet, pampoen, blaarslaai, groenbone en nog vele ander groentesoorte hul verskyning in hul pragtige groentetuin maak nie!