Gimmies help graag

Gimmies by van die meubels wat Gerry Jooste (derde van regs) gemaak het en wat hulle oorhandig het aan Jonathan en Elsie Ayford (middel). Die Gimmies van links is Jannike van Rensburg, Franke du Plooy (projekleier), Louis Potgieter, Aiden Serfontein, Hannes Griesel (voor), Aliyah Cremer en Nika Potgieter. Foto: Elsabé du Plooy

LANGENHOVEN GIMNASIUM op Oudtshoorn se verteenwoordigende raad van leerders, die VRL, het onlangs hand bygesit om ’n “goedvoel-storie” vir ’n gesin van Suikerbult te skep.

Annelize Schutte, ’n onderwyser van Eljada-Kairos Skool op Oudtshoorn, vertel die storie het eintlik tydens ’n leerder-tuisbesoek begin.

Onderwysers wat besoek afgelê het by een van die skool se leerders, het besef dat hy en sy pa, ma en broer in haglike omstandighede van uiterste armoede in die Suikerbult-woongebied woon.

Volgens Schutte het die huisie slegs bestaan uit ’n klompie lappe wat oor vier pale gegooi is, en was daar geen huisinhoud nie.

“Die hartseer omstandighede is by Eljada Kairos se hoof, Hennie Baartman, aangemeld wat op sy beurt die Oudtshoorn Munisipaliteit gekontak het vir hulp. So is die gesin se laphuisie vervang met ’n sinkplaathuisie.

Maar dit was nie waar die storie eindig nie,” sê Schutte. Dit is hier waar die Gimmies se VRL ingetree het.

Schutte sê dat die skool se hoofmeisie, Franke du Plooy, het met die projek voortgegaan nadat sy daarvan gehoor het. Saam met die res van die VRL is ’n inisiatief geloods om die binnekant van die huisie op te kikker en te verbeter. Daar was immers nie eens ’n bed, tafel of kas om van te praat nie.

Die projek, Anything but school shoes for shacks, het behels dat Gimmie-leerders vir een dag teen ’n koste gewone skoene kon aantrek skool toe. Die fondse wat hiermee ingesamel is, is gebruik om meubels vir die gesin se nuwe huisie te vervaardig. ’n Klerekas, kombuiskassies en ’n stapelbed wat bestaan uit ’n dubbelbed onder en enkelbed bo is deur die Oudtshoorniet Gerry Jooste van palette gemaak.

Jooste is ’n entrepreneur wat ook as hekwag werk by ’n paaslike wildsreservaat. Hy het gedurende die Covid-inperking houtwerk begin doen om die pot aan die kook te hou en het die meubels vir die gesin teen ’n baie spesiale prys gemaak.

Die voltooide meubels is op 15 Junie aan ’n baie dankbare gesin oorhandig. (Deur Stefan Skapie Goosen)

1 Comment on "Gimmies help graag"

  1. Linda Blaauw | 02/07/2022 at 16:02 |

    So hartroerend dat klinders moet sien in watter haglike omstandighede hul maats bly.Dankie Gimmies vir julle bydra tot n goedvoel daad

Comments are closed.