Roofsaak teen Malawiërs laat vaar nadat klaers wegbly van hof

Die Indraf Kafee in St Saviourstraat op Oudtshoorn waar ’n rooftog in Augustus 2021 plaasgevind het. Die saak teen die drie beskuldigdes is nou laat vaar. Foto: Stefan Skapie Goosen

’N ROOFSAAK teen drie mans van Malawië wat daarvan aangekla was dat hulle in Augustus 2021die eienaars van die Indraf Kafee in St Sa­viour­straat beroof het, is deur die staat teruggetrek omdat die klaers wegbly van die hof.

Watson Mtuwa (36), Ali Coshtok (32) en Mase Mohammed (25) is daarvan aangekla dat hulle die eienaars van die Indraf Kafee, Imam Hussain en Moosa Daud, met ’n vuurwapen gedreig en beroof het van R10 000 kontant, sigarette, sjokolade, koeldrank en drie selfone. Hulle is dieselfde dag wat die roof plaasgevind het, in hegtenis geneem.

Die staat het die klagte teruggetrek nadat die saak al verskeie kere uitgestel moes word omdat die klaers nooit hof toe gekom het nie en dit duidelik was dat hulle nie met die saak wou voortgaan nie.

Op die klagte dat hulle onwettig in die land is nadat hul paspoorte verval het, het die drie beskuldigdes se regsverteenwoordiger, Wenzel Bo­tha, die hof vir opgeskorte vonnisse gevra om­dat aldrie eerste oortreders is en nie oor die finansies beskik om ’n boete te betaal nie. Hulle het ook skuldig gepleit.

Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het egter beklemtoon dat hulle aan ’n ernstige misdryf skuldig bevind is.

Streeklanddros Sylvia Mandla het die drie mans op die klagte van oortreding van die immigrasie­wet skuldig bevind en elk ’n boete van R1 200 of ses maande gevangenisstraf opgelê. (Deur Garnett Wicomb)