13 topkonserte vir die 13de Klassique!

Die sopraan Lynelle Kenned wat vanjaar by Klein Karoo Klassique optree. Hier is sy verlede jaar tydens die fees op Oudtshoorn afgeneem deur Hans van der Veen.

OUDTSHOORN se fees van klassieke musiek, Klein Karoo Klassique, word vanjaar oor die vyf dae van die Vrouedag-langnaweek in Augustus aangebied – Vrydag tot Dinsdag, 5 tot 9 Augustus, met 13 uitstaande konserte vir dié 13de fees!

Volgens Hugo Theart, artistieke direkteur van die fees, sal van die land se voorste klassieke musici en uitstaande opkomende talent by die fees optree.

Die fees sluit ook ’n visuele kunsteprogram, boekgesprekke en -verkope, wynproege­leenthede en ander proe-erva­rings in.

En soos altyd bied die Oudtshoorn-om­gewing heerlike eetervarings by plaaslike restaurante en ook talle toerisme­besienswaar­dighede

Die Burgersentrum is vanjaar die fees­kern, met die meeste aktiwiteite wat daar sal plaasvind.

So lyk vanjaar se feesprogram

Vrydag 5 Augustus
19:00: Klassique Galakonsert met lede van die Kaapstad Opera, die sopraan Janelle Visagie en pianis José Dias.

Saterdag 6 Augustus
10:00: Handri Loots (fluit) en Mareli Stolp (klavier). Na hul uitvoering tree hulle in gesprek met die gehoor.

14:30: The Gqeberha Trio, David Bester (viool), Jan-Hendrik Harley (altviool) en Mariechen Meyer (kontrabas), gevolg deur ’n musiekgesprek.

19:00: Tjellis Peter Martens en die bekroonde Suid-Kaap-pianis Megan-Geoffrey Prins speel musiek van Schumann, Beethoven en Popper.

20:30: ’n Jazz-konsert, saamgestel deur Ramon Alexander.

Sondag 7 Augustus
10:00: A Trio of Trios met Suzanne Mar­tens op viool, Karin Gaertner op altviool en Peter Martens op tjello met trios van Beethoven, Dohnányi en Stephenson.

14:00: Ses lede van die Kaapstad Filharmoniese Orkes en Kaapstad Filharmoniese Jeugorkes tree op in A Celebration of Youth met musiek van Mozart, Beethoven en Schumann.

19:00: Galakonsert: Baroque to the Future met die Suid-Afrikaanse Nasionale Jeugorkes, sopraan Hlengiwe Mkhwananzi en Erik Dippenaar op klavesimbel.’n Wye repertoire van barok­musiek van onder andere Handel, Purcell, De Lalande en Rameau word uitgevoer en gevolg deur ’n gesprek.

Maandag 8 Augustus
10:00: Tjellis Anmari van der Westhuizen en pianis Nicolene Gibbons deel die verhoog in Cello Splendour, gevolg deur ’n musiekgesprek.

14:00: Twee Oudtshoorn-pianiste, John Theo­dore en Sulayman Human, wat in 2015 hulle debuut as klavierduo by Klassique gemaak het, keer terug na die verhoog met musiek van Bach, Strauss, Schubert en Rachmaninov, verwerk vir twee klaviere in Suite Treats Variety, gevolg deur die fees se laaste musiekgesprek.

18:00: Lede van die Kaapstad Barokorkes, Ingo Müller (barokhobo), Erik Dippenaar (klavesimbel en regisseur) en die soprane Lynelle Kenned en Hlengiwe Mkhwanazi in Handel at Home vir ’n program van kamermusiek vir instrumente en stemme. Dié uitvoering word by De Opstal Country Lodge aangebied en sluit ’n ligte aandete in.

Dinsdag 9 Augustus
9:30: Orrelmusiek deur Erik Dippenaar in The Splendours of the Baroque Organ by die NG Kerk Park.

12:00: Die immergewilde Steinway-pianis Charl du Plessis sluit Klassique af met musiek van Chopin, Bach, Brahms, Beethoven en ander in Songs for my Mother.

’n Spesiale kaartjiepakket vir 11 van die 12 uitvoerings is teen R1 300 beskikbaar, of enkel-kaartjies kan vir uitvoerings gekoop word. Vriende van die KKNK kwalifiseer vir 5%-afslag.

Kaartjies is te koop by www.webtickets.co.za, Pick n Pay landwyd of die KKNK op Oudtshoorn.

So het dié besonderse fees begin
Die eerste Klein Karoo Klassique het in die laatwinter van 2009, van 14 tot 16 Augustus, op Oudtshoorn plaasgevind.

Volgens die sakeman Nic Barrow, by wie die gedagte van dié fees ontstaan het, is hy geïnspireer deur die tientalle klas­sieke musiekfeeste in Europa, soos die Mozartfees in Salzburg (Oostenryk), die Strauss-fees in Wene (Oostenryk) en die Puccini-fees in Lucca (Italië).

Die eerste Klein Karoo Klassique is in 2008 en 2009 oor ’n tydperk van sowat 11 maande onder die leiding van Barrow as voorsitter deur ’n aantal begeesterde inwoners van die dorp gereël en bemark as ’n fees van klassieke musiek, kunsuitstallings, streekskos en wyn.

Sedert sy eerste jaar het Klein Karoo Klassique gereeld die asems weggeslaan. Daar was die aanvanklike verwondering oor ’n klassieke musiekfees vir Suid-Afri­kaners met vele merkwaardige hoogte­punte.

Sommer by die eerste fees was almal in ’n propvol Burgersentrum herhaaldelik op hul voete by die optrede van die sopraan Pretty Yende saam met Given Nkosi en die Kaapse Filharmoniese Orkes (KFO).

In Jamstreet, ’n venue langs die Rooiheuwelpad, is spesiaal ’n opelug-amfiteater ge­bou vir die optrede van die so­praan Zanne Stapelberg – met die wye landskap van die Klein Karoo en die Swartberge as agtergronddoek.

Oor die jare daarna het van Suid-Afrika se topmusici wat internasionaal naam ge­maak het, soos die pianiste Ben Schoeman en Petronel Malan asook die komponis en fluitspeler Wouter Kellerman, by dié fees opgetree.

In 2010 het die fees ’n internasionale kleur gehad met musici uit Oostenryk en die VSA wat kom optree het.

Nog ’n hoogtepunt vir ’n tyd lank by die fees was die teenwoordigheid van die operalegen­de Mimi Coetze wat in 2012 ingestem het om ’n beskermvrou van die Klein Karoo Klassique te word.

• Vanjaar se Klein Karoo Klassique word moontlik gemaak deur die ondersteuning van die Rupert Musiekstigting en bydraes deur die ATKV en Barrow Trust. (Deur Liesel le Roux)