Bundels gedigte is hier … en ’n Karoostorie kom

Peet Vermaak van Oudts­hoorn, wat onder die naam Petrus JS Vermaak skryf, met die drie bloemlesings waarin van sy gedigte opgeneem is. Foto: Schalk le Roux

VIR die Oudtshoorniet Peet Vermaak was Juniemaand vanjaar ’n hoogtepunt, met nege van sy gedigte wat in drie verskillende bloemlesings gedigte van Malherbe Uitgewers verskyn het: Die Nuwe Era Groot  Verseboek en Stap Saam deur 2021, bundel 1 en bundel 2.

Hy was verras en dankbaar dat soveel van sy gedigte opgeneem is, sê hy. Vermaak, wat onder die naam Petrus JS Vermaak skryf, se tweede digbundel, Stemme uit die hemel, is ook tans by dié uitgewer. Sy eerste digbundel, Kambro Kind, het in 2019 verskyn.

Vir dié bestuurder by die Wilgewandel Vakansieplaas buite Oudts-hoorn is skryf duidelik ’n groot passie en bring dit ook vir hom groot vreugde.

Hy vertel dat hy klaar weer aan die skryf is, maar dat hy met sy volgende boek ’n nuwe genre aangepak het.

Dié keer wend hy hom tot fiksie met ’n verhaal getiteld Verbode liefde, ’n Karoostorie. (Deur Liesel le Roux)