Hoe gebeur dit dat raadslid inmeng in dié aanstelling?
Volgens die media is daar gerugte dat ’n raadslid of raadslede die aanstellingsproses van die munisipale bestuurder verhinder het. Hoe gebeur dit as dit wel so is, en wat doen die munisipale bestuurder en burgemeester daaraan?
Dit is growwe inmenging in die administrasie van die munisipaliteit en die speaker behoort dit te ondersoek en op te tree.
So ’n optrede verdien summiere skorsing van die betrokke raadslid of raadslede.
Wat van die geld wat die munisipaliteit betaal het aan die betrokke diensverskaffer wat die aan-stellingsproses hanteer het? Dit is die belastingbetaler se geld. Dit is vrugtelose uitgawes wat deur betrokkenes betaal sal moet word.
O nee, as die minister en COGTA nie nou intree om die wanorde te red nie, het hierdie raad geen bestaansreg nie.
– Raadop van die Hoorn
(Die Hoorn het verlede week berig dat die aanstellingsproses van ’n munisipale bestuurder glo tydelik stopgesit is omdat dit volgens die munisipaliteit “gekompromitteer” is en ’n verslag deur die burgemeester, Chad Louw, by 29 Junie se raadsvergadering voorgelê sou word. By die vergadering is aangedui ’n verslag sal nie voor die raad dien nie en dat die aanstellingsproses voortgaan.)
Hoe staan sake met kuierplekke hier?
Die onlangse hartseer voorval in die Oos-Kaap waartydens 21 minderjariges hul lewens verloor het, stem meeste van ons (regdenkende) volwassenes tot groot ontsteltenis.
Nou wonder ek maar net hoe staan sake hier op Oudtshoorn met sy baie “kuierplekke”?
Waar is die ouers van hierdie kinders?
Wie moet hierdie plekke polisieer en toesien dat daar volgens die bepaalde lisensievoorwaardes handel gedryf word?
Wie en waar is die wetstoepassers?
– Pieter, Oudtshoorn
Absa – wat gaan met hulle aan?
As prokureur sukkel ek met bostaande bank met elke boedel wat ek beredder indien die oorledene geld belê het of ’n rekening by hulle gehad het. Dit neem maande om die bank sover te kry om die oorledene se geld in die boedelbankrekening te kry, tot groot frustrasie van die erfgename.
Die volgende is ’n voorbeeld van maar een van die boedels se probleme:
1. Op 6 Desember 2021 stuur ek vir Absa by nde@absa.co.za ’n skrywe met al die dokumente wat hulle benodig om die boedel se geld oor te betaal;
2. Aangesien die fondse nie oorbetaal is nie, skryf ek daarna weer op 9 Februarie 2022 waarby ek wéér al die dokumente stuur. Ek bevestig dat as praktiserende prokureur vir 50 jaar ek nog nooit sulke swak diens van ’n bank gekry het soos van Absa nie. Hulle vra kort-kort ’n afskrif van die oorledene se ID en dit terwyl ek dit al vyf keer vir hulle gestuur het;
3. Geen antwoord behalwe: “we are busy attending to your request”.
4. Op 22 Maart 2022 rig ek weer ’n skrywe waarin ek sê dat, wat banke betref, ons van Absa die swakste diens kry. In dieselfde brief verwys ek na die staat gedateer 13 April 2022 en merk die volgende: 3/1/22 – Adminfooi van R30 gedebiteer. Op dieselfde staat nog ’n debiet vir ’n administrasiefooi van R30. Op dieselfde dag weer ’n debiet vir aanbiedingsnavraagfooi van R50.
Nie lank daarna nie, nog steeds Februarie, nog ’n aanbiedingsnavraagfooi van R50. Op 17 Maart, ’n admi-nistrasiefooi van R30 en 13 April weer ’n aanbied- ingsnavraagfooi van R50.
As Absa ’n miljoen rekeninge het, vat hulle R30miljoen per maand! Dan nog vir die “aanbiedingsnavraagfooi” van R50 wat nog R50miljoen is! En dit is alles so maklik, want die rekenings is mos daarvoor geprogrammeer. Ek beskou dit as diefstal (gesê in die brief) én die rekening is net R16000!
5. Maar toe die beste. Ná hulle dié skrywe kry, word my kantoor geskakel en gesê hulle het nie ’n bode nie en ons moet ons bode stuur. Tot my verbasing is daar R50 (kontant) vir die boedel waar-oor ek spesifiek gekla het, én sommer nog R170,51 vir ’n ander boedel ook. (Sonder ’n brief!)
Waarom sal mens by Absa belê? – Johan Wagener, Oudtshoorn
An Absa spokesperson responded as follows to the letter:
At Absa we are committed to conducting the highest level of due diligence processes on deceased estates to safeguard the interests of our deceased customers and their estates. Due to industry-wide administrative backlogs, related to a ransomware attack at the Department of Justice, our turnaround times to conduct this due diligence has been impacted. Absa has, on the back of this, enhanced our fraud prevention efforts to protect our customers’ investments and ensure we pay out to court sanctioned executors and administrators. We have also put plans in place to address our turnaround times. We regret the inconvenience caused in this matter and will reach out to Mr Wagener to resolve his concerns expeditiously.
Finansiële toestand van munisipaliteit, grotte en ander bates
Met verwysing na bogemelde aangeleentheid het ek die volgende brief aan die Oudtshoorn munisipale raad voorgelê:
Geliewe die volgende inligting aan my te verskaf:
• Die Kango Grotte ly om verskeie redes ernstige finansiële verliese. Die Covid-19-pandemie is natuurlik die grootste oorsaak. Dis nou verby. Wat gaan julle nou doen om die situasie te beredder? Oudtshoorn is besig om dood te bloei terwyl die raadslede viool speel. ’n Buitelandse besoeker het vir my gesê hy kon nie eens ’n blikkie koeldrank daar koop nie.
• Volgens statistiek van die Waterfront in Kaapstad is hul besoekersgetalle reeds tot en met 70% van wat dit voor die Covid-19-pandemie was. Wat is die situasie by die Kango Grotte?
• Wat word gedoen ten opsigte van met die Spa, Die Bergoord en De Hoek?
Volgens alle aanduidinge behoort hierdie eiendom nog aan die Raad, wat ernstige finansiële verliese ly. Is dit nie die beste om die eiendomme te verkoop nie?
Volgens my inligting het buitelandse beleggers sowat 3 jaar gelede sterk belangstelling getoon om die Bergoord te koop en is oorweging daaraan geskenk. Daar het egter dadels van gekom.
Daar is blykbaar ’n regsaksie tussen partye oor die huur van die restaurant by die Kango Grotte.
Wat is die posisie? Moet die strydende partye nie ’n tydelike skikking bereik nie sodat die restuarant net kan voortgaan? Of is dit ’n geval van mense wat weer “’n ekstra geldjie wil maak”?
• ’n Munisipaliteit se plig is seer sekerlik nie om beddens aan besoekers te verkoop nie, en moet dit aan die privaatsektor gelaat word om te bedryf. Wat is die Raad se houding?
’n Dringende antwoord word afgewag.
– Nic Barrow, Franschhoek