Eljada-Kairos Skool se gholfdag ten bate van ’n goeie doel

Van links, saam met Hennie Baartman (heel regs), Eljada skoolhoof, is die top-drie spanne. Foto: Stefan Goosen

DIE Eljada-Kairos Skool op Oudtshoorn is een van twee skole in die Tuinroete wat voorsiening maak vir leerders met fisiese en verstandelike gestremdhede, en hul jaarlikse gholfdag – wat Saterdag (11 Maart) op die Oudtshoorn Gholfbaan plaasgevind het – poog om fondse in te samel om die werk wat die skool in hierdie gemeenskap, en ook talle ander regoor die Suid-Kaap verrig, te ondersteun.

Meer as 70 spelers van hier en elders het die dag bygewoon. ’n Veiling is ook gehou om verdere fondse op die dag in te samel.

Die skool se missie is onder meer om ’n gunstige, inklusiewe leerom-gewing te skep waarin ’n effektiewe en toepaslike kurrikulum aangebied word; gespesialiseerde ondersteuningsdienste verskaf word; deelname aan sport-, godsdiens-, kulturele- en ontspanningsaktiwiteite bevorder word; die leerder begelei word tot optimale onafhanklikheid; waardes gevestig en uitgebou word en ouers en die gemeenskap betrek word.

Talle plaaslike besighede het pryse bygedra vir beide die wenners, die gelukkige trekking en veiling. (Deur Stefan Skapie Goosen)