Wat gebeur as jy ‘n spinnekop se bene afsny?

Deur Johnny Malgas

EK speel vanoggend alleen buite in die tuin.
Die korreltjies gruis druk knoppies in my knieë.
Ek vryf daaroor en dit voel snaaks.
Die wind laat die bome heen en weer wieg en ek hoor van vêr af ’n motor nader kom.
My halwe spiderman mannetjie loer na my. Leonardo se groen been lê effens na links.
Ek hoor ’n sonbesie en ’n tortelduif.
Ek kry die reuk van kookkos êrens in die buurt.
Dan hoor ek hoe die hekkie oopgaan.
“Ry jy bietjie saam?”
“Waarheen gaan pappa?”
Ek is besig om ’n doring uit die sool van my voet te probeer wikkel.
Dan eers kyk ek op.
Dit wil lyk of my pa gehuil het, maar pappas huil mos nie.
“Ons gaan net ’n draai ry, kom jy?”
Ek kyk hom met een oog aan.
Die son verblind my so ek draai my kop half skeef.
“Ek kom.”
Die deur slaan hard agter my toe en die sitplek brand my kaal bene.
Pappa ruik soet, maar pappas dra mos nie parfuum nie.
Die motor brul onder ons.
My pa kyk na my en glimlag.
Ek kyk na hom en glimlag.
Die musiek spring soos daai sonbesie uit die luidsprekers.
“Go Johnny, Go Go Go. Go Johnny Go Go Go…”
My pa draai die volume effens op en die motor voel sterk onder ons.
Sterker as gewoonlik.
My pa kan bestuur.
Hy bestuur al sy hele lewe lank.
Al vandat hy nog kleiner as ek is.
Maar ek mag nog nie bestuur nie.
Tye is nou anders sê hy.
My pa vra nooit vir aanwysings nie, want pappas verdwaal mos nie.
“Go Johnny, Go Go Go. Johnny be good…”
My pa is in ’n baie goeie bui vandag.
Hy stop vining om met die oom op die hoek te gesels.
Hulle gesels vinnig.
Die oom moet baie haastig wees, want hy gee sommer die klein pakkie vinnig deur die ruit aan.
Die oom moet seker iemand anders ook soek, want hy kyk verskriklik baie rond.
Buite sien ek hoe die bome waaronder ek vroeër gesit het verby flits.
Ek hoor nie meer sonbesies of tortelduiwe nie.
In my broeksak voel ek spiderman se ander helfte.
Ek wens ek kon hom gou heelmaak.
Die ander stuk daar tussen die gruis kan nou nêrens sonder sy bene nie.
Ek het al gesien dat ’n regte spinnekop agt bene het, maar myne het nou nie eers twee nie.
“Pappa, wat sal gebeur as mens van ’n spinnekop se bene afsny?”
Ek dink nie hy het my gehoor nie, want hy het een van sy goeie vriende langs die pad gesien en skielik gerem.
“Eks nou terug, wag net hier!”
Die deur slaan agter hom toe.
Deur die ruit sien ek vir oom James.
Hy moet my pa se heel beste vriend wees, want hulle speel dan nou ook cowboys en crooks soos ek en Allan doen.
Ek wonder hoekom my pa se speelgoedgeweer nog nie stukkend onder die spekbos lê soos myne nie.
Allan het gedink dit sou ’n goeie plan wees om dit daar weg te steek.
Niemand sal daar kyk nie. Niemand het nog nie.
Dit was ’n goeie plan. Allan is my beste vriend.
My pa en oom James verdwyn vinnig agter die blou geboutjie in.
Dalk het oom James ook ’n goeie plan?
Dis nou pikdonker.
Ek sit nog steeds alleen in die motor en speel maar met spiderman se bene. Ek wag vir my pa en oom James om klaar te speel.
My pa sal nou kom, want pappas verdwaal mos nie.