Prof Paul Kruger – ’n mentor, kollega en vriend

Deur Johan Strasheim

Herinneringsvlugte saam met Johan Strasheim
Ek blaai vanoggend deur ’n klomp ou WhatsApp- boodskappe en kom op hierdie een af van ’n ou vriend – ’n vriend en oud-kollega prof Schalk Claasen …

“Paul Kruger is gistermiddag oorlede … op sy bed. Vermoedelik hartaanval.”
Dit was Desember 2019 – bykans ’n jaar gelede – maar ek onthou dit soos gister. My gedagtes het meteens in vryval ingegaan en meer as veertig jaar se geskiedenis het in my gedagtes verbygeflits. Ek en Paul kom ’n baie lang pad, inteendeel, van 1978 af. Sy gedenkdiens is baie gepas gehou by die klein kapel op die Tukkie-kampus, waar hy as adademikus die grootste deel van sy professionele lewe met onderskeiding uitgeleef het.

Die logistiek van die plaaslewe in Desember het dit vir my moeilik gemaak om daar te wees en ek skryf toe maar die volgende boodskap wat daar voorgedra sou word:
Vriende, ek dink vandag terug aan ’n paar besondere mense wat my lewenspad gekruis het – wat ek die laaste ruk moes groet. Uiteenlopende mense, maar elkeen baie spesiaal op sy eie, unieke manier. Een van die meer merkwaardige manne wat ek nou moet groet, was my dosent, mentor, mede-outeur, studieleier, promotor en vriend van baie jare – prof Paul Kruger.

Ek kan so baie sê van Paul en dit is werklik ’n voorreg. Jy dink oor alles oor die jare en jy moet maar keer om nie te sentimenteel te raak nie. Ek het so ’n paar jaar gelede ’n stukkie geskryf oor die dood wat maar deel is van die die lewe. Dit is seker so. Die wyse manne reken ’n mens skryf elk­-een self sy eie huldeblyk terwyl hy nog lewe, en dit is beslis so. Paul het dit werklik met uitstaande onderskeiding gedoen.

Paul en ek het die eerste keer ontmoet in 1978 – in my derde jaar op Tukkies, toe hy my en baie an­der jongmense geleer het van rekenaarprogrammering, statistiek, die waarskynlikheidsleer, simu­- lasietegnieke en die reuse wêreld van optimiserings­tegnieke en operasionele navorsing. Sy ma­nier van doseer was puik. Hy was op ’n professionele vlak van sy eie en werklik een van die heel bestes.

Deur die jare het Paul ’n bepalende rol in my aka­demiese vordering gespeel. Hy was die stu­dieleier vir my finalejaarsprojek, my meestersgraad en later die promotor van my PhD. Paul was waarlik ’n mentor in alle opsigte en een van die werklike groot manne en baanbrekers van bedryfs­-ingenieurswese as erkende beroep. Sy indrukwek­kende CV gee mens ’n idee van sy uitmuntende werk en prestasies oor die jare.

Ek dink werklik nie Paul het ooit werklik besef watter geweldige positiewe invloed hy gehad het in die lewens van honderde, selfs duisende, jongmense soos ek oor die jare nie.

Paul was een van die “groot drie” in my vor­-mingsjare as jongmens en as bedryfsingenieur – die ander twee prof Johan Botha en natuurlik prof Kris Adendorff. Paul is die laaste van die vorige generasie “swaargewigte” om vooruit te gaan, maar sal daardie spesiale status vir altyd behou. Ek het al lank gedreig om weer in Pretoria by Paul ’n draai te maak, maar helaas, daar leer prof Kruger vir oulaas sowaar weer vir my ’n les: Daar is net twee oomblikke in die lewe – nou en te laat! Moenie uitstel nie.

So iets is natuurlik altyd maar onverwags en nie lekker nie en tog so pynlik finaal, maar gelukkig waai die winde van die tyd die hartseer en om­ge­krapte sand van ons emosies en nagedagtenis uit­eindelik weer mooi glad.

Mettertyd koester mens maar net die mooi herinneringe en sit maar ’n paar tipiese fototjies op die yskas en in vergeelde foto-albums vir almal om die lekker tye saam vir altyd te onthou. Dit is seker nou maar eenmaal hoe die ou lewe loop met ons almal.

Glo my, daar is baie mense wat vir Paul nog baie lank sal onthou. Hy was ’n besondere mens, later redelik eksentriek, maar ’n groot man en groot gees wat diep spore getrap het, en ons almal gaan hom baie mis. Ware vriende is gelukkig dié wat nooit uit jou hart uit gaan nie, al is hulle uit jou lewe uit.

Soos Jan FE Celliers se gedig oor genl. De Wet sê: “Stil, broers, daar gaan ’n man verby, hy groet, en dis verlaas. Daar’s nog maar één soos hy; bekyk hom goed.”

Lekker rus, Paul, jou werk hier is klaar my ou maat … en jy het baie goed gedoen.