Oom Jannie Lategan – ’n ware ‘champ’

Deur Johan Stasheim

Dinge gaan maar deurmekaar deesdae. So kry ek die nuus dat Oom Jannie siek is en hospitaal toe is.
Jy probeer maar nou en dan uitvind hoe dit gaan, maar die daaglikse kata-strofes suig jou aandag ook op en jy kom nie by alles uit wat jy graag aandag wil gee nie.

Dan skielik ruk ’n slegte boodskap op jou sel­foon jou tot stilstand. Oom Jannie het so pas vooruitgegaan.

Jou kop draai bietjie en jy probeer tussendeur sin maak van alles. Dood-gaan is net so finaal. Later die aand as jy rustig raak, dink jy onwillekeurig terug aan die tyd wat julle saam deurgebring het en die geselsies wat julle gehad het.

Waar het dit begin? Dit voel soos ’n leeftyd gelede.

Ná ’n lang tyd – eintlik ’n hele lewe – verruil ons voorstedelike Pretoria vir die plaaslewe in die Klein Karoo in die amfiteater van die Swartberge.

Ons beland eindelik op die plaas in Lategansvlei.

Ek ken in daardie stadium vir Hennie, die agent wat die plaas aan ons verkoop het; Herman, die verkoper, en basies niemand anders nie. Hulle sê mos daar is ’n baie dun lyntjie tussen baie braaf en baie onnosel!

Ek word voorgestel aan Kosie Lategan, so half en half ons buurman, en sy pa, Oom Kosie. Baie gou kom ons agter ons is eintlik omtrent omsingel deur ’n klomp Lategan-manne, nogal almal familie ook. Daar is Oom Kosie, Kosie, Klein Kosie en Ryno, Oom Jannie en Klein Jannie – wat natuurlik glad nie ’n klein outjie is nie! Bietjie verder af in die vallei af is daar Piet.

Ons kom gou agter hoe dinge inme-kaarpas en leer die klomp mettertyd baie goed ken, asook elkeen se baie unieke kenmerke. So leer ek ook vir Oom Jannie ken.

Ek sien Oom Jannie nog voor my staan, altyd so ’n opregte en eerlike glimlag. Sy klere was altyd pynlik netjies, soveel so dat hy my aan my tyd in die “army” laat dink het.

Hoe hy dit reggekry het, weet ek nie. Seker maar tannie Martie se invloed. Moet wees. Hul woning en tuin was net so netjies en wanneer ek terugdink aan my besoeke daar, sien ek altyd blomme, baie blomme. Altyd mooi, hartlik en alles altyd netjies.

Oom Jannie was natuurlik ’n lente-uieghoeroe wat tot vervelens toe elke jaar met Klein Karoo se eerste prys as die voorste lente-uiesaadprodusent weg is huis toe. Dit was later nie eers meer ’n verrassing nie, want niemand kon hom skynbaar wen nie. Wat ’n puik rekord van uitnemendheid!

So netjies soos sy klere altyd was, so pynlik netjies was sy voertuie – veral daai blou trekker van hom. As jy die blou trekker op die lande sien loop, kan jy maar weet hy is in die stoel!

Hy was ’n ware “champ” en ons al-mal gaan hom en sy openhartige vriendelikheid geweldig mis.

Oom Jannie, ou vriend, jy los ’n groot gat in die blomtuin van die lewe. Ons sal moet gewoond raak om sonder jou helder lig in die donker tyd in ons lewens klaar te kom. Ek is net dankbaar dat ek jou kon ken en dat ek jou my vriend kon noem, al was dit net vir ’n klompie jare. Ek stap sonder twyfel ryker anderkant uit.

Jy was sonder twyfel een van die goeie ouens, my ou vriend. Jy het goed gedoen. Rus in vrede. (Deur Johan Strasheim)

1 Comment on "Oom Jannie Lategan – ’n ware ‘champ’"

  1. Tillie | 26/08/2021 at 17:16 |

    Baie dankie vir die mooi woorde oor my pa, die gemis is groot, net soos almal gedink het hul weet hy kry weer die toekenning het ons gehoop hy bring dit huis toe! Mnr Pieter Burger en sy span se insette het natuurlik ook bygedra tot pa se sukses. Tot ons dogters het geleer hoe die saadproduksie werk. Vriendelike Groete Tillie Pieters

Comments are closed.