Briewe van lesers

Dankie vir dié peperboom-storie

Dankie, Poem Mooney, vir jou interessante storie oor die peperboom in Oxfordstraat.

Ry deur Oudtshoorn se strate en oral staan die geharde peperboom.

Vroeër jare was daar bykans in elke erf ’n peperboom met sy sagte groen blaartjies en trossies rooi bessies.

Baie jare gelede het my skoolmaat Alet Sieberhagen en ek een van die peperbome by Laerskool Wesbank aan Parkweg se kant geplant.

Vandag word peperboomtak-kies en rooi bessies in rang-skikkings gebruik.

Die sierlike ou peperboom kom dus nog altyd tot sy reg.
– Marie, Oudtshoorn

Sosiale verval en bydrae van die munisipaliteit

Daar heers tans ’n kultuur van afbreek.
Die Oudtshoorn-raad laat stilswyend toe dat sekere mense die infrastruktuur tot niet maak. Daar word nie suksesvol teen die skuldiges opgetree nie.

Wetstoepassing kom nie tot sy reg nie.

Ek wil graag weet waarom daar nie ’n munisipale hof in die Oudtshoorn Munisipaliteit is nie. Ons kan nie oor en oor sypaadjies en straatligte vervang nie.

As belastingbetalers kan ons nie aanhou geld betaal om ons woonplekke op te gradeer om dan net te sien hoe dit weer die volgende dag afgebreek word nie.

Daar is ’n gebrek aan politieke leierskap en die wil om ons dorp vorentoe te neem.

Die onwettige stortingsterreine in ons woongebiede is ’n groot kopseer. Dit skep ’n gesondheidsgevaar vir ons mense.

Wanneer gaan daar ’n oplossing kom vir al die probleme? Al wat ek vra, is dat wetstoepassing tot sy reg kom. Daar is te veel verskonings wanneer dit kom by ons agtergeblewe gemeenskappe. Elke amptenaar was sy/haar hande in onskuld.

Geraasbesoedeling en klipharde musiek is naweke aan die orde van die dag. Ek sal graag wil hê dat daar opgetree word teenoor die skuldiges. Ons grondwetlike regte word gruwelik geskend.

Act 108 of 1996 the Constitution of the Republic of South Africa Chapter 2 the Bill of Rights section 24 subsection (a): Everyone has the right to an environment that is not harmful to their health or wellbeing.

Ek vra die Oudtshoorn Munisipale Raad om daadwerklik op te tree teen hulle wat die regulasies (by-laws) oortree.
Volgens my siening is dit rusverstoring in sy ergste vorm.

Ek wil net noem dat die munisipale raad die subkragstasie in Smartie Town sowat twee maande gelede omhein het. Tans word die heining afgebreek en weggedra. Ons kan nie so voortgaan nie.

Nog ’n groot kopseer is die Covid-19-regulasies wat oortree word.

Die Polisie het nie die kapasiteit om die regulasies op ’n volhoubare manier toe te pas nie. Die Oudtshoorn SAPS kla gereeld dat hulle slegs een voertuig naweke beskikbaar het, en dat baie van die beamptes siek is. Ek vra dat die aangeleentheid aangespreek word. Wetstoepassers en die polisie moét naweke sigbaar wees en optree teenoor diegene wat die wet oortree, veral die aandklokreël.
– K Jansen, Oudtshoorn