Kingdom News: Vreugde in jou stryd

Biskop Joey Denvor Thorne van die Pinkster Protestante Kerk (PPK) Tikvah Embassy in Dysselsdorp Foto verskaf

Liewe vriende, groete in die wonderlike naam van Jesus Christus. Dis weereens ’n blye voorreg om vandag met u uit die woord van God te deel. Ek wil graag u aandag vestig op die Apostel Paulus terwyl hy in die tronk was in, Fil 1.

Dit is ’n kragtige verhaal wat ons herinner aan die genade en moed wat God sy kinders gee, selfs in die moeilikste en donkerste tye.

Paulus skryf die brief aan die gemeente van Filippense terwyl hy in die gevangenis was.

Alhoewel hy toegesluit was, bly sy gees en geloof onwankelbaar in Christus Jesus. Dit is ’n wonderlike voorbeeld vir ons vandag om te sien hoe Paulus sy situasie benader en hy vreugde vind, selfs in die situasie. Situasies moet ons nie onderkry nie. Ons geloof in Christus moet juis deur situasies versterk word.

Terwyl Paulus in die tronk was, het hy nie aan selfbejammering gelei nie, hy het nie vir die Here kwaad geword nie. Hy het dit liewer as ’n geleent-heid beskou om die evangelie te verkondig. Hy het nie toegelaat dat sy omstandighede hom van sy roeping weghou nie.

Inteendeel, hy het selfs gesê dat sy ge- vangeniskap Christus se werk bevorder het.

In Fil. 1:12-14 skryf hy: “Ek wil hê julle moet weet, broeders, dat wat met my gebeur, eerder die vordering van die evangelie bevorder het, sodat my gevangenskap in Christus bekend geword het onder die hele paleiswagte en ook ander mense, en die meeste van die broeders in die Here wat deur my gevangeniskap meer vertroue gekry het om die woord onverskrokke te verkondig.”

Paulus het die tronk nie as ’n obstruksie gesien nie, maar as ’n geleentheid om die liefde van Christus aan mense te openbaar wat hy andersins nie sou kon bereik het nie.

Hy het selfs diegene in sy omgewing beïnvloed, soos die paleiswagte en ander gevangenes.

Sy getuienis van vreugde en geloof het ’n impak gehad op almal wat hom omring het.

Die geheim van Paulus se standvastigheid in die tronk was sy vertroue in God.

Hy het geweet dat God hom nooit sou verlaat of begewe nie.

Hy het dit verwoord in Fil. 4:13, waar hy sê: “Ek is tot alles instaat deur Christus wat my die krag gee.”

Hy het geweet dat sy krag en vreugde nie afhanklik was van sy omstandighede nie, maar op die onwankelbare liefde en genade van God.

Ons kan baie leer uit Paulus se getuienis in die tronk. Dit herinner ons daaraan dat ons in elke omstandigheid vreugde kan vind as ons ons vertroue op God stel.

Selfs in tye van beproewing en moeilikheid kan ons ’n bron van inspirasie vir ander wees.

Ons kan ’n lig wees in die duisternis en ’n ge-tuienis wat die krag van God openbaar.

Laat ons nie toelaat dat omstandighede ons vreugde en geloof wegneem nie. Kom ons bly fokus op Christus se liefde vir ons.

Hy is die voleinder van ons geloof. Laat ons die roeping wat Hy op ons lewe geplaas het uitleef met blydskap.

Ek vertrou dat die voorbeeld van die Apostel Paulus in die tronk ons sal aanmoedig om standvastig te bly in ons geloof en om altyd vreugde te vind in die Here, ongeag ons omstandighede.

Mag ons nie alleen getuienis wees van Christus wanneer dit goed gaan nie, maar ook in tye van beproewing en moelikheid want Hy is Emmanuel, God met ons. Ek bid dat ons almal die moed sal hê om ons geloof te leef selfs in tye van stryd.

Mag ons die liefde en genade van God ervaar, en mag ons lewens ’n getuienis wees van die krag van God, onse Vader.

Die genade van onse Here Jesus sy en bly met u almal.
Shalom (Deur Biskop Joey Denvor Thorne)