Ou Pieterse se skoorsteen

Deur Daniel Lötter

Teen die tyd dat die polisie met ou Ragel opdaag, is oubaas Pieterse skoonveld.

Duidelik het hy met sy fiets in die pad geval toe hy besef het dat ou Ragel op die liggaam van sy vrou afgekom het. Die bondel wat nou op die vuurherd lê, word oopgemaak. Dit is ou miesies Pieterse met ’n stuk binddraad om die nek. Sy is al ’n hele ruk lank dood.

Dit sou later in die hof blyk dat sy die Sondag-oggend voor die kwansuise vertrek na Uniondale vir ou Pieterse ingewag het na kerk. Oudergewoonte begin sy weer skoorsoek totdat ou Pieterse afdak toe vlug.

Daar gewaar hy die stuk binddraad en sonder om nog ’n keer na te dink loop hy terug in die huis waar die ouvrou, nog steeds brommende en mompelende, voor die stoof staan. Blitsig laat hy die stuk binddraad van agter oor haar kop sak en pluk dit styf. Daarna bondel hy die liggaam in streepsakke en stop dit in die skoorsteen voordat hy begin inpak.

Hy kruip vir twee weke weg in die Kango, vas oortuig daarvan dat ou Ragel dink hy en die tante is op Uniondale, voordat hy besef dat iemand ie-wers op die lyk gaan afkom. Derhalwe keer hy terug huiswaarts en begin voorbereidings tref om die dorp te verlaat (met die liggaam) en iewers in die veld van die bewys van sy misdaad ontslae te raak. As ou Ragel net nie besluit het om daardie oggend haar voorskoot te kom haal nie.

Dieselfde middag vang die polisie hom, te fiets op pad Swartberg se kant toe. Die verhoor duur net ’n driekwartuur. Ou Pieterse pleit skuldig en word gevonnis tot lewenslange tronkstraf. Hy sou sy vonnis in die Kaap uitdien, maar hy sterf na minder as drie jaar in die tronk.

Die skoorsteen is afgebreek en die huisie herbou voordat daar weer mense in dit sou woon – maar baie sonsondergange sou verby gaan voordat dit gebeur het. (Deur Daniel Lötter)