Briewe van lesers: 20 Julie 2023

Rosevalley Gemeenskap-aksiegroep korrespondensie

Die bestuur en lede van die Rosevalley gemeenskap-aksiegroep bedank graag die burgemeester, Mnr Chris McPherson, die munispale bestuurder, Mnr Walter Hendricks, Mnr Jantjies (behuising), Mnr Llewellyn Coetzee en Me Dora Moos (raadslid Wyk 6), vir die reeks positiewe vergaderings wat tussen die verskillende partye en die RGAG gehou is.

Die doel van die vergaderings was om beter samewerking tussen die inwoners van Rosevalley en die Oudtshoorn Munisipaliteit te bewerkstellig. Verder is die opheffing van die lewenstandaard van die Rosevalley inwoners ook bespreek.

Die verskaffing van huise en die skep van werksgeleenthede was ook hoog op die agenda.

Die verbetering van die lewe van die jong mense is ook aangespreek.

Die aanbring van geriewe vir sport en rekreasie word beplan. Projekte om die veiligheid van die inwoners te verseker, in samewerking met die Sektor 1 polisieforum, is ook besig om vorm aan te neem.

ʼn Spesiale woord van dank aan Me Dora Moos (raadslid Wyk 6) vir haar bereidwilligheid om die RGAG met woord en daad by te staan en uit te reik wanneer sy benodig word.

Inwoners van Rosevalley word aangemoedig om by die Rosevalley gemeenskap-aksiegroep aan te sluit sodat onderhandelinge en samesprekings met die Oudtshoorn Munisipaliteit en toekomstige rolspelers op ʼn georganiseerde wyse kan plaasvind.

– Lizzie Kock, Algemene sekretaresse