Met die lieflike reën wat onlangs op Oudtshoorn en omgewing neergesak het, lyk die veld pragtig groen en sommer weer vol lewe. Ongelukkig is baie van die groenigheid ook onkruid wat oral welig groei. Een van die soorte “onkruid” wat oral opkom en baie vinnig groei is die Kiesieblaar.
Die Hoorn het met dr Analise Schutte-Vlok van CapeNature gaan gesels oor die onkruid-soort wat oral vinnig welig groei.
Hier volg ’n paar interessante feite:
“Kiesieblaar se botaniese naam is Malva parviflora,” sê sy.
Die plant se Engelse algemene naam is “small-flowered mallow” or “bread-and-cheese”.
Soos die naam voorstel behoort dit aan die malvacceace-familie. Ander plantvoorbeelde is katoen en algemene tuinplante soos Hibiscus, en ook van ons inheemse plante soos die kremetartboom, poprosies, sandroos en Kaapse stokroos.
“Een van die uitstaande kenmerke van dié fa-milie is die hare wat ’n steragtige vorm het, sigbaar met ’n 10 x vergrootglas,” verduidelik Schutte-Vlok. Sy waarsku egter dat die plant nie verwar moet word met die wildemalvas wat aan die fapmilie geraniaceae behoort en al ons pelargonium- spesies wat sowat 280 soorte insluit nie.
Kiesieblaar is ’n uitheemse onkruid afkomstig uit Europa en Asië. Sover sy kan vasstel is dit nog nie as ’n onkruid verklaar in terme van wetgewing nie (soos bv. wattelbome). Dit is ’n jaar of meerjarige kruid wat 0,5-1,5 m hoog groei en ontwikkel ’n sterk wortelsisteem. Die wit of pienk blommetjies is klein en onopvallend.
Die moontlikheid bestaan dat dit vir medisinale doeleindes deur die vroeë setlaars in die land ingebring is. Volgens Bromilow se Problem plants in South Africa is dit giftig vir vee en veral perde wanneer dit in groot hoeveelhede gevreet word. In die Wes-Kaap is dit ’n probleemplant in boorde en wingerde waar dit kan indring.
Daar is ook al gevalle opgeteken waar mense van die plante eet en skynbaar nie siek word daarvan nie. Medisinaal kan dit veral gebruik word vir die behandeling van wonde, swere, swelsels, kneus-plekke en gebreekte ledemate. [https://www.sciencedirect.com/topics/agricultural-and-biological-sciences/malva-parviflora].
Daar is geregistreerde onkruiddoders vir die spesie, wat effektief is veral as die plante nog jonk is. Vir groter en ouer plante sal opvolgbehandeling nodig wees. (Deur Angelique Erasmus)
Kiesieblaar – wat jy moet weet oor die plant
Kiesieblaar sover soos die oog kan sien. Nie eers die Oudtshoorn koue en ryp maak hom seer of laat hom verlep nie. Die plant is nog nie as ’n onkruid geklassifiseer nie. Foto: Angelique Erasmus