In die Bybel is soveel verhale met omstandighede en situasies waar God Homself kragtig openbaar het deur verlossende antwoorde te bied aan diegene wat Hom vertrou het.
Een so ’n verhaal is in 1 Konings 17 waar Elia hom bevind by ’n spruit wat vir hom water voorsien asook kraaie wat soggens brood en vleis aan hom bring. Hierdie was God se voorsiening aan hom nadat hy ’n droogte aan Israel moes aankondig en toe moes vlug. In vers 7 droog die spruit op as gevolg van die droogte.
Die woord van die Here aan Elia is dat hy na Sarfat moet vertrek waar God ’n weduwee opdrag gegee het om hom te onderhou. Elia ontmoet hierdie weduwee en vra vir water waarna hy ook vra vir ’n stukkie brood.
Die vrou lig hom toe in dat sy slegs genoeg olie en meel het om vir haar en haar seun ’n maaltyd te maak. Haar situasie was so uitdagend dat sy vir Elia sê dat sy dit vir haar en haar seun gaan voorberei waarna sy dan gaan sterwe. Hierdie hele situasie spreek van tekort, hopeloosheid, moedeloosheid en vrees vir wat voorlê. En tog is dit die vrou wat God kies om vir Elia te sorg.
Dit wat hierna gebeur is wonderlik. Elia sê vir haar sy nie hoef te vrees nie, en hy versoek dat sy die eerste baksel vir hom moet bring om te eet, want God se woord aan Elia was dat haar meel en olie nie sal opraak in die droogte nie. Hierdie vrou het toe gegaan en gedoen soos God se woord aan haar was en die meel en olie word nie minder nie.
God gebruik ’n onmoontlike situasie om vir haar en vir Elia te sorg.
Wat ’n merkwaardige gebeurtenis. Hierdie fisiese wonderwerk getuig van hoe God Sy woord in hierdie vrou se lewe instuur en haar oprig as deel van Sy groter plan. Beide Elia en die vrou moes hul vertroue plaas in God se woord. Elia moes glo dat God ’n groter plan het en hy moes in gehoorsaamheid reageer, terwyl die vrou God se woord met haar laaste moes vertrou, en toegang verkry het tot God se verlossende antwoord.
Net soos met Elia en die weduwee, verwag God dat ons geloof in Sy plan vir ons lewe moet hê en dat elke situasie ’n antwoord het, maak nie saak wat nie.
In Markus 5:25-34 lees ons van ’n vrou wat vir 12 jaar aan bloedvloeiing gely het met geen oplossing nie. Dan lees ons hoe sy haar vertroue in Jesus plaas en deur die skare druk om aan Jesus te raak, want sy het geglo dat as sy net kan raak aan sy kleed sal sy gesond word. Die krag van God het haar aangeraak en dit was haar verlossende antwoord. Jesus het vir haar gesê dat haar geloof haar gered het. Sy het geglo dat Hy die Een is wat God gegee het sodat ons lewe kan hê. Dit is immers die salwing van God wat die jukke breek.
Vandag wil ek elkeen bemoedig om in geloof in Chistus, geanker in Sy Woord, te weet dat Hy verlossende antwoorde bewerkstellig in Christus. Wat ookal vandag die vrees of onsekerheid in jou hart veroorsaak, weet dat jy jou vertroue volkome in die Een kan sit wat waardig is van al ons geloof. Christus is die ant-woord vir elke situasie.
Jes 9:6-7 (9:5) Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors— (7) (9:6) tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen. (ANDRÈ NEL)