In die warmstoel: Tyd is glibberig

Hannes Visser

Ek is daarvan oortuig dat die aarde die afgelope aantal jare vinniger begin draai het en ook nader aan die son beweeg het. Daar is geen ander verklaring waarom ’n jaar so vinnig verbywoerts nie. Dis eers as mens op Facebook na jou foto’s kyk dat jy besef dit of dat wat soos gister voel, het al ses of sewe maande gelede gebeur. Dit is skrikwekkend.

Ek sou dink dat ons baie meer tyd tot ons beskikking het met al die nuwe tegnologie waarmee ons onsself opsaal. Ek hoef nie meer bank toe te gaan nie, ek hoef nie meer in ’n ry te gaan staan om lisensies te hernu nie. Ek kan alles doen deur knoppies te druk.

Ek hoef nie eens meer supermark toe te gaan nie, maar daar trek ek die streep. Ek wil nog tussen rakke ronddwaal en my eie piesangs en perskes en avokado’s uitsoek en deur ’n bedelaar gepla word. Gun my die klein stukkie realiteit om nog op ’n snikhete Karoo-middag in my kar te kan klim en huis toe te jaag voordat die roomys smelt.

Ek probeer ’n lys maak van alles wat ek deur die jaar gedoen het. Dan maak ek ’n lys van alles wat ek nog wou gedoen het en om een of ander onver-klaarbare rede is die lys van wat ek wou gedoen het baie langer as die een van wat ek gedoen het. Dis ’n wanbalans wat ek nie kan kleinkry nie.

Dis ’n lewensraaisel soos sokkies wat een-een verdwyn of Tupperware-bakkies wat hulle deksels verloor. (Ek is daarvan oortuig dat Tupperware kan teleport of “shape shift”, want hoe anders kry mens sewe bakkies en sewe deksels, maar nie een deksel pas op een bakkie nie?)

Ek lees ’n ruk gelede in Moestas deur Deborah Steinmar, dat ’n karakter sê ons was nog nooit so oud soos vandag nie en ons sal nooit weer so jonk wees soos vandag nie. (Noudat ek daaraan dink, dit was nie ’n ruk gelede nie, dit was Januarie 2023 toe ons in die Baviaanskloof was en die laaste keer dat ek ’n boek vir blote ontspanning gelees het.)

Tyd is glibberig. Mens kan dit nie vashou nie, jy kan dit nie bêre of spaar vir eendag nie. Tyd is nóú en dan is dit weg. My vrou se leuse op haar WhatsApp-status is Carpe Diem en ek probeer regtig hard, maar as ek weer sien het die dag my gegryp, eenkant toe gesmyt en verbygestorm.

Ek het nou vrede gemaak met verlore tyd, ek sal oor ’n maand my Nuwejaarsvoorneme maak om tyd beter te gebruik. (Regstelling: nie oor ’n maand nie, oor minder as 20 dae!) (HANNES VISSER)