Muur stuit besope geregsdienaar se jaagtog

Links: Die polisievoertuig nadat dit deur die muur gebars het. Foto verskaf Regs: ’n Skermgreep van die video, waar die voertuig in aankomende verkeer se baan ry en net betyds uit die pad swenk.

’n Polisievangwa het Maandagaand, in Calitzdorp deur ’n muur gebars.
Oogetuies het gesien hoe die voertuig teen ’n hoë spoed in die hoofstraat ry, voordat dit die muur tref.

“Daar was ’n sterk reuk van drank,” vertel ’n omstander wat anoniem wil bly. Die bestuurder was geklee in ’n kortbroek en ’n frokkie.

In een van die foto’s is ’n bottel in die voertuig sigbaar, wat lyk na ’n drankbottel.

Die Hoorn is ook in besit van ’n video waar die voertuig tussen Ladismith en Calitzdorp verskeie kere oor die pad swenk en twee maal amper met verkeer van voor bots.

Hy ry verskeie kere oor die wit streep en het selfs ’n keer op die skouer van die pad beland.

Sers. Chris Spies, woordvoerder van die SAPD vir die Suid-Kaap, het op Die Hoorn se navraag die volgende geantwoord:

“Strafsake van roekelose en nalatige bestuur asook die gebruik van ’n voertuig sonder die eienaar se toestemming is geregistreer nadat ’n polisievoertuig omstreeks 19:30 teen ’n muur op die hoeke van Voortrekker- en Van Rensburgstraat, Calitzdorp, gebots het” lui die verklaring.

“Voorlopige verslae wat beskikbaar is, dui daarop dat die polisie deur ‘n lid van die publiek oor die ongeluk gewaarsku is. Met hul aankoms het hulle die voertuig en die slagoffer, ’n polisiebeampte, gevind wat reeds in ’n ambulans geklim het om na die hospitaal vervoer te word. Die lid is steeds in die hospitaal.

“Omstandighede rondom die ongemagtigde gebruik van die voertuig en ongeluk vorm deel van ’n voortgesette polisie-ondersoek.

“Tuinroete-distrikskommissaris, generaal-majoor Phumzile Cetyana, het ’n senior beampte van sy kantoor aangestel wat reeds met ’n interne ondersoek na hierdie saak begin het. Hierdie ondersoek sal parallel met die kriminele ondersoek loop.”

Die video sal op Die Hoorn se facebookblad geplaas word. (ANGELIQUE ERASMUS)