Die begrafnis van die 26 jarige Pedro Witbooi wat verlede Woensdag-oggend op die grottepad doodgery is, vind more in Schoemanshoek plaas. Die liggaam van Witbooi is Woensdagoggend omstreeks 05:30 deur verbygangers in die middel van die ryvlak opgemerk.
Volgens sersant Chris Spies, skakelbeampte van die SAPD in die Suid-Kaap, is die polisie om 05:45 na die toneel gestuur. Die voertuig wat Witbooi getref het, was nie op die toneel nie, maar met die hulp van wrakstukke en ’n nommerplaat wat op die toneel gevind is, kon die voertuig opgespoor word.
Volgens die verklaring was dit ’n Ford Bantam-bakkie. Spies het bevestig dat ’n klag van strafbare manslag ondersoek word.
Met Die Hoorn se aankoms op die toneel, het Pedro se pa, Piet Witbooi, pas sy seun se identiteit bevestig. Hulle woon net verby Spieskamp, ongeveer drie kilometer van die toneel af.
Hy was nie op die dag van die voorval in staat om met die media te praat nie. Volgens bure was Pedro liggaamlik gestremd en het hy blykbaar Dinsdagaand by vriende gaan kuier. Hy is meer as ’n jaar gelede op dieselfde pad ook deur ’n voertuig getref. Sy beserings het hom in die hospitaal laat beland en hy moes ’n geruime tyd met ’n rolstoel oor die weg kom terwyl hy herstel het.
Piet Witbooi het Dinsdag met Die Hoorn gepraat terwyl hy en familielede op Schoemanshoek by die begraafplasie agter Rodewal primêreskool besig was om sy seun se graf voor te berei.
“Ons weet nog niks verder nie. Ek weet net iemand het my seun herken en toe het hulle my laat weet hy is dood. Ek het gister met die speurder gepraat, maar ek het nog nie inligting nie. Die mense in die gemeenskap weet wie die bestuurder van die bakkie was, maar dit is nie vir ons om te oordeel nie. Ons is hartseer en vol vrae, maar dit was ’n ongeluk en ons moet dit aan die gereg oorlaat om die saak te ondersoek.”
Piet se vrou is elf jaar gelede oorlede. Pedro was die jongste van hulle vier kinders. (HANNES VISSER)