Die Hoorn is twee weke gelede op die spoor gesit van ’n man wat vrouens in Oudtshoorn laat in die aand bel en dan met video-oproepe homself eksplisiet ontbloot. Die man se identiteit kon nie met die True-Caller toepassing bekom word nie.
Die nommer het geregistreer as PERVERT, maar daar was wel opmerkings van vrouens wat op die man se oproepe probeer reageer het om sy identiteit te bekom. Die Hoorn kon daarin slaag om van die vrouens deur Facebook-boodskappe te kontak.
Die Hoorn het met ’n sielkundige gesels om die psige en motivering van so ’n persoon vas te stel. Sy verduidelik dat hulle gewoonlik ekshibisionisties is en nie geweldadig optree nie. Sy noem ’n voorval in Potchefstroom waar ’n man vir soortgelyke oortredings vasgetrek is danksy die werk van ’n private speurder, Johan Botes.
Die man het 25 klagtes teen hom gehad en is tot sewe jaar gevangenisstraf gevonnis. Die Hoorn spoor Johan Botes van Deo Volente Investigations in Noordwes op en hy bied aan om te help om die sekspes in Oudtshoorn te help identifiseer.
Een van die dames wat deur die man geteister is, stem in om anoniem met Die Hoorn te praat. Sy het besluit om die man uit te lok in die hoop om meer oor hom uit te vind en sy het die WhatsApp-gesprekke aan Die Hoorn gestuur. Binne ’n uur na haar gesprek kontak nog twee dames die koerant.
Daar word bevestig dat die man onder ’n skuilnaam ten minste 12 dames in Oudtshoorn geteister het. Die man het ook ’n tweede nommer gebruik om een van die vrouens te bel. Met ’n soektog op True Caller kon die man se identiteit met die tweede nommer verbind word.
Die nommer word aan Botes gestuur en daar word bevestig dat die man ’n 24 jarige inwoner van Prins Albert is. Sy Facebook-profiel vul die prentjie in en verklap sy persoonlike inligting.
Die Hoorn het al die inligting aan die relevante persone gestuur wat ook op die agtergrond saamgewerk het.
Die polisie het verlede week by die man besoek afgelê.
Hy het aanvanklik ontken dat hy die teisteraar is, maar het dit later erken en onderneem om daarmee op te hou.
Dit blyk dat hy nommers van vrouens op verskillende WhatsApp-groepe waarvan hy deel was, gekry het.
Dit blyk dat die man nie onbekend aan die polisie is nie aangesien daar al voorheen klagtes oor ’n soortgelyke optrede was.
Die polisie kan ongelukkig nie optree alvorens ’n formele klag deur een van die slagoffers gelê word nie. Intussen het hulle net die man se woord dat hy dit nie weer sal doen nie.
Indien enige dame sedert Oktober deur dieselfde man geteister was, word hulle versoek om dringend met die polisie of met Die Hoorn kontak te maak. Die identiteit van die persoon word vir eers teruggehou, maar kan moontlik bekendgemaak word as daar verdere verwikkelinge is.
Die polisie se raad aan vrouens is om onder geen omstandighede, veral snags, video-oproepe van onbekende nommers te aanvaar nie en om sulke voorvalle onmiddellik aan te meld. (ANGELIQUE ERASMUS)