Die Oudtshoorn Rotariërs het verlede week meer as 500 sagte speelgoed en Kerspakkies by ongeveer 12 kleuterskole in die Groter Oudtshoorn oorhandig. Die sagte speelgoed is deur 35 vrywilligers gebrei en voorverlede week by die Rotariër Aftreeoord in Kerkstraat afgegee.
Die Hoorn was Vrydag saam toe die groep Rotariërs die Nomonde créche in Bongolethu besoek het. Leon Coetzee het Kersvader gespeel en met sy Kersvaderpak op sy motorfiets tot by die kleuterskool gery.
Nomonde het tans 40 kleuters wat elke dag versorg word. Volgens ’n lid van Oudtshoorn Rotariërs het hulle dié skooltjie as ’n projek aangeneem en drie geboue wat in ’n haglike toestand was, opgeknap.
Die geboue se mure is herstel, nuwe dakke is opgesit, nuwe vloere is gelê, afdakke is opgerig en splintenuwe badkamers is ook ingerig.
Die volgende gedeelte van die projek is om ’n groot afdak oor die binneplein op te rig en ook om die vierde gebou wat nog erg verwaarloos is, op te knap. Nadat die groep van Nomonde af vertrek het, is hull na die Pierewiet-kleuterskool in Volmoed wat deur die Rotariërs opgerig is. (HANNES VISSER)