Die Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, Tertuis Simmers, het Woensdag, 4 Desember, vyf rekenaars aan Huis Triomf geskenk.
Volgens Simmers gebruik die provinsiale regering bates soos byvoorbeeld rekenaars wat na ’n spesifieke tyd vervang moet word, om aan skole en instansies te gee nadat dit opgegradeer is. Hy sê dat nie net kinders hierdeur gehelp word nie, maar die regering verseker ook dat bates op hierdie wyse optimaal benut word.
Benewens die rekenaars het die minister ook skryfbehoeftes, skoonmaakmiddels en voedsel wat deur organisasies geskenk is, aan Huis Triomf oorhandig.
Huis Triomf huisves tans 42 seuns wat deur die hof daar geplaas is en is grootliks van skenkings afhanklik. The Barn Church van Gauteng, onder leiding van Pastoor Roelof Kwant, het die afgelope drie jaar ongeveer R2 miljoen aan opgradering van die sentrum bestee wat voorheen in ’n haglike toestand was.
Die kerkgroep het die hele gebou opgeknap, nuwe badkamers ingerig, kamers vergroot, ventilasie verbeter, die hele kombuis omskep, vensters vervang en met skenkersgeld ’n swembad laat insit waar die seuns gereeld swemlesse ontvang.
Behalwe vir die fisiese opgradering bestuur The Barn Church ook Huis Triomf.
Dit is ongelooflik om te sien en te ervaar hoe-veel veranderinge ’n plek wat voorheen verwaarloos somber en neerdrukkend was, ondergaan het. (HANNES VISSER)