Die ‘helder sterre’

Deur Johan Strasheim

Deur Johan Strasheim

As jagondernemer ontmoet ’n ou baie mense. Op die jagskoue in Amerika kom letterlik honderde mense by jou stalletjie verby.

Sommige kyk en vermy doelbewus oogkontak, ander groet beleefd en kyk weg, ander pyl op jou af soos ’n geleide missiel. Dan het jy gewoonlik een van vyf uitkomste.

Die eerste en mees irriterende groe­pie is die sogenaamde “tyre kicker” wat alles kyk, jou duur bros­jures saamneem en eintlik maar net jou tyd kom mors.

So ’n ou kan maar net sy passie en sy droom uitleef deur met jou te gesels oor ’n jagsafari in die Afrika-wildernis – iets wat hy in sy lewe nooit sal kan bekostig nie en gevolglik nie gaan koop nie. Van dié ouens is egter so passievol dat jy maar laat gaan en jy behandel hom presies soos die ernstige manne. Behalwe natuurlik as hy die derde jaar in ’n ry met dieselfde glimlaggie by jou opdaag!

Die jagverenigings oor die VSA maak almal staat op donasie-jagte wat hulle dan opveil of verkoop om hul boeke te laat klop. Die manne stap bakhand van stalle­tjie tot stalletjie en bedel jagte. Hulle is almal aangename manne en dit vat maar mooi voetwerk om hulle te laat aanbeweeg sonder dat jy jouself vasbelowe in dinge waaroor jy later spyt gaan wees.

Dan is daar die ouens wat werklik navorsing doen oor moontlike jag­bestemmings, raad vra oor goed soos verskillende jagareas, gewere en ammunisie, toestande, weer en veiligheid en alles uitvra.

Dié ouens mag dalk oor ’n jaar of twee ’n jagsafari bespreek. Jy investeer geredelik tyd met hulle … net ingeval.
Daar is ook die klein groepie wat ernstige kopers is. Dié manne het hulle huiswerk klaar gedoen en wil kom sien wie die ou agter die naam onder aan die baie e-posse is voor die dollars hande verwissel.

Julle ken mekaar so goed ná al die korrespondensie, julle voel soos ou kennisse. Jy praat oor datums, pryse en spesifieke detail – paspoorte, vlugtye en so aan. Dié gesprekke is opwindend en vol afwagting.

Die laaste groep is die lekkerste groep. Hulle is die kliënte wat reeds in die verlede by jou kom jag het. Julle maal die ou stories oor en herleef die kort tyd­jie wat vir dié manne so bitter spesiaal was.

Meeste van hulle kom elke jaar op die skou by jou verby vir dieselfde ervaring – herleef die safari – want ons het dit baie spesiaal gemaak vir die ouens. Dit was telkens perfek om een van die manne wat reeds daar was op dieselfde tyd as ’n voornemende koper bymekaar te hê in die stalletjie vir ’n wenresep. Die nuwe ou word net daar oortuig!

So gesê, maar na ’n ruk vervaag die gesigte en jy onthou nie meer almal nie. Snaaks genoeg is daar aan die ander kant weer ’n paar wat jy nooit sal vergeet nie. Ek noem hierdie ouens die helder sterre – daardie gesigte wat uitstaan in die lewe se hemelruim van massas gesigte uit die verlede.

Ouens soos Royce McNeil wat op 79 jaar oud ’n buffel kom jag het by ons saam met die televisiepersoonlikheid Colorado Buck met sy swart stetson en lang blonde hare.

Dié jagsafari is natuurlik ’n storie op sy eie werd met baie merkwaardige en soms baie snaakse oomblikke. Net jammer ek het meeste van die tyd onderstebo gelê met malaria.

Ek het oor die jare gereeld aan hom gedink en het onlangs verneem dat hy reeds ’n paar jaar gelede oorlede is.

Dis in die lewe ook maar so – ons ontmoet almal duisende mense, maar slegs ’n handvol staan werklik uit op ’n manier sodat hulle onthou word. Mense wat ’n blywende indruk gemaak het op die een of ander wyse. Dis nou maar hoe dit is!