Wicomb-familielede wat die afgelope naweek die elfde familiesaamtrek by die Calitzdorp Spa bygewoon het. Foto’s: Garnett Wicomb
Deur Garnett Wicomb
BY die 250 Wicomb-familielede het die afgelope naweek (27 – 30 April 2018) die elfde familiesaamtrek by die Calitzdorp Spa bygewoon.
Die hoogtepunt soos altyd was die dankseggingsdiens Sondagoggend, gelei deur Graham Wicomb van Kaapstad, waartydens hulde gebring is aan die familie se voorouers en kerse aangesteek is ter nagedagtenis aan hulle en familielede wat sedert die 10de saamtrek in 2016 oorlede is.
Die tweede oudste lid van die familie, Phillippina Wicomb van Oudtshoorn, is op die eerste dag van die saamtrek begrawe. Sy was 92 jaar.
Die saamtrek word elke tweede jaar gehou.
Die oudste familielid, Ampie Wicomb (97) van Oudtshoorn, het in sy boodskap aan die familie die belangrikheid en waarde van ’n familiebyeenkoms beklemtoon.
“Die groot getal familielede wat vir die eerste keer die saamtrek bygewoon het, is ’n teken dat daar steeds groei is. Ons het baie bereik en kan met reg trots wees daarop,” het hy gesê.
Die voorsitter van die Oudtshoorn-reëlingskomitee, Jonathan Wicomb, het die saamtrek as ’n besondere een beskryf. Dit was langer as gevolg van die openbare vakansiedae wat meer tyd gegee het vir aktiwiteite, samesyn, lekker rus en om mekaar beter te leer ken. Hy het saamgestem met ’n familielid, Lana Wicomb Fielies, wat versoek het dat jongmense meer insette tot die saamtrekke moet lewer.
Volgens hom is dit ook noodsaaklik om die reunie bekostigbaar vir almal te hou.
Petula Wicomb Carelse, voorsitter van die Wes-Kaap-streek, het in haar oorsig gesê die saamtrek sal as die “vliegtuigsaamtrek” onthou word vanweë opnames en foto’s met ’n hommeltuig van Elroy Wicomb.
Farouk Wicomb, voorsitter van die Oos-Kaap- streek het in sy bedanking gesê saamtrekke is die ideale plek om “nuwe” familielede te ontmoet en het ’n beroep gedoen op almal om geduldig met mekaar te wees en almal te respekteer. “Dit verg baie organisasie om so ’n saamtrek te reël en daarom moet ons verby foute en tekortkominge kyk.”
Volgens hom is daar nog baie familielede wat by die saamtrekke betrek moet word en sal daar in die toekoms gekyk moet word vir ’n groter venue as die Calitzdorp Spa.
Die Wes-Kaap het vanjaar se toutrekkompetisie gewen.
Die volgende saamtrek, in 2020, sal moontlik oor ’n ander naweek as einde April gehou word vanweë die vastyd van Moslem-familielede.

Die voorsitters van die drie streke Jonathan Wicomb (Oudtshoorn), Petula Wicomb Carelse (Wes-Kaap) en Farouk Wicomb (Oos-Kaap).