Hangbrug – einde van ’n era?
Een van ons bekendste landmerke is nou al lank gesluit. En net soos ou geboue se deure met planke toegekap, en dan aan die genade oorgelaat word, is dieselfde besig om met ons hangbrug te gebeur!
Toegekap met planke, en aan die genade oorgelaat? Binnekort stuk-stuk weggedra na skrootwerwe toe?
Soos enige struktuur moet die brug ook in stand gehou word, en houtwerk wat verweer, vervang word.
’n Seksie van so ongeveer een meter se balke waarop die loopplanke rus, het totaal verrot en dus is daar geen basis waarop die loopplanke kan rus nie. So is die hele brug se houtstruktuur regtig in ’n swak toestand.
Die brug is eintlik ’n baie eenvoudige struktuur. Twee kabels bo-oor die torings weerskante van die brug, waaraan twee kabels hang, wat elke 1,5 meter aan die boonste kabels geanker is. Bo-op die onderste kabels rus dwarsbalke, en dan twee balke in die lengte bo-op die dwarsbalke, waarop die loopplanke vasgespyker is.
Om die hele houtstruktuur te vervang, word die volgende benodig: 370 meter balke, 50 mm x 150 mm vir die drabalke en 1 010 meter planke, van sê 100 mm x 32 mm vir die loopvlak. Enigeen kan die koste baie vinnig bereken. Verkieslik met ordentlike hout soos balau of garapa wat gewoonlik vir houtdekke gebruik word.
Dit sal duur wees, maar kan iemand, of ’n instansie nie die inisiatief neem om ’n fondsinsameling te begin deur bydraes te vra om byvoorbeeld dele van die hout te borg nie?
As welwillende (afgetrede) ingenieurs sal aanbied om raad te gee, en welwillende kontrakteurs van hulle skrynwerkers – wanneer hulle nie werk vir hulle het nie teen kosprys beskikbaar sal stel, het ons binnekort weer ’n nuwe, bruikbare brug waarop almal trots kan wees!
Vir die huidige word daar net een 50 mm x 150 mm balk, 1,5 meter lank, ’n paar boute en spykers, en ’n skrynwerker so vir ’n oggend benodig om die brug weer bruikbaar te maak!
– Bekommerde Oudtshoorniet
(Dit is regtig goed om te lees dat inwoners genoeg omgee vir Oudtshoorn om te begin planne maak om die brug te herstel! Omdat die brug egter ’n nasionale erfenisterrein is, moet toestemming en goedkeuring vir die herstel- werk – ook hoe dit gedoen mag word – van Erfenis Wes-Kaap verkry word. Die munisipaliteit het verlede jaar al die brug deur kundiges laat evalueer, ’n ingenieursverslag is opgestel en geld is reeds deur hulle beskikbaar gestel vir die herstel – soos Die Hoorn vroeër vanjaar berig het. Daar word egter nog vir die toestemming van Erfenis Wes-Kaap gewag. – Redakteur)