22 Maart 2010: Mila, ’n week nadat sy deel van die Stasheim-gesin geword het. Foto verskaf
Ek kyk deur my boekrak en kom op die dun boekie Loeloeraai van Langenhoven af. Ek het al so half vergeet daarvan. Ek maak dit oop by die bladsy waar hy die werk opdra aan sy hond Jakhals. Dit is ’n pragtige stukkie. Ek haal gedeeltelik aan:
Hy handel oor ’n wese wat nie ’n mens is nie, wat hoër as ’n mens staan – ’n onbereikbare meerdere. Vir my was hy die uiterste volmaaktheid wat ek op die aarde aangetref het, van liefde en trou en deug. En ek het hom verloor, en ek verlang, verlang, verlang.
Aan sy nagedagtenis dan dra ek hierdie werkie op aan die nagedagtenis van my vriend en hond Jakhals.
Honde is darem soveel beter vriende as mense. Ons klein maatjie, die Jackie Mila, het so paar weke gelede die einde van haar paadjie bereik en moes sy vooruitgaan op die paadjie waar ons nie nou al kan saamgaan nie.
Sy is laas jaar met diabetes gediagnoseer en ons het getrou elke oggend en elke aand die insulieninspuitings gegee. Romana is drie tot vier maal per nag met haar buite toe. Maar jy weet dit is nie normaal nie en kan nie vir ewig aanhou nie, al wens jy dit weg.
Toe kom daar ’n skielike draai in haar toestand en haar niere begin ingee. Die skrif is aan die muur en die prognose is nie goed nie. Ons is met swaar harte huis toe van die veearts af. Ten minste kan ons kans kry om afskeid te neem van haar.
Die hondjie is nie haarself nie en sy kry duidelik swaar. Ons ken haar te goed. Selfs die gesiggie straal nie meer op dieselfde manier nie. Sy het nie meer haar gebruiklike lewenslus nie en lê maar die meeste van die tyd. Sy kan gou nie meer eet nie en later selfs nie eers meer water drink nie. Dit is nie ons Mila nie. Sy is klaar, jy weet dit en dit maak seer.
Honde leer mens so baie van die lewe en van jouself. Oneindige lojaliteit, onvoorwaardelike liefde. Hulle leer jou om jou dinge wat pla in die lewe te aanvaar sonder om iemand anders se geluk te wil gebruik om die las ligter te maak. Hulle bekommer nie oor môre nie, hulle los dit vir jou!
Dan kom daardie droewige dag. Ons is die Dinsdagoggend stil in die bakkie veearts toe vir die moeilikste ding wat ’n mens seker kan doen – om ’n hond wat oneindig lief vir jou is en maar net by jou wil wees, ’n genadedood te gee. Jy voel soos ’n skurk en ’n bedrieër.
Dit is ’n moeilike oomblik en ek sal altyd haar ogies onthou toe sy doodstil staan, vir my kyk met ’n rustige uitdrukking wat sê: “Toe maar, Baas, ek weet julle sal altyd net doen wat die beste is vir my.”
Haar ogies bly blink en sy kyk stip vir my toe die lewe uit haar lyfie uitgaan terwyl ek haar liggies onder haar oortjie krap met haar kop in my hand. Dit sny diep, baie diep. Ek moet maar hard sluk aan die gemoed wat wil oorkook.
Die onwerklike oomblik speel oor en oor in jou gedagtes af. Ek onthou toevallig dat haar neusie droog was, en dit was nog nooit in haar lewe so nie. ’n Paar minute later stap ons daar uit met baie swaar harte. Sy lyk nog presies dieselfde – bekende merkies, ’n bekkie wat na 11 jaar begin vaal word, kenmerkende kolletjie op die kop. Maar leweloos…
Ek dink dit is moeiliker om van ’n hond afskeid te neem as ’n mens wat ’n vol lewe gehad het. Seker maar omdat honde ons liefhet met ’n reinheid en ’n toewyding waarvan ons as mense maar net kan droom. Hierdie liefde en sterk band is iets wat ons behaag en ons sukkel om te laat gaan. Een troos wat ek het, is dat die hondjie nie bekommerd is oor wat môre bring nie – of dat môre enigsins kom nie. Dis mos ons probleem!
Die lewe is kouer as ’n goeie en getroue vriendjie soos ons Mila vooruitgaan. Ons mis haar klein lyfie en groot gees in die huis geweldig.
Honde gee ons hulle absolute alles. Ons is die middel van hulle bestaan en die fokus van hulle liefde, aandag en vertroue. Hulle beloon ons met die diepste lojaliteit denkbaar – vir ’n bietjie versorging en aandag.
Rudyard Kipling het juis gedig: Bro-thers and Sisters, I bid you beware, Of giving your heart to a dog to tear.
Ons Mila is op die plaas begrawe. Ek sien elke nou en dan die hopie klippe onder in die tuin en dink onwillekeurig aan Langenhoven se woorde: En ons het haar verloor, en ons verlang, verlang, verlang…
