Briewe van lesers

Dam is nodig

Dankie dat die Wes-Kaapse provinsiale regering, Kannaland se uitgawes stopgesit het; na aanleiding van laas week se skrywes, want dis onnodige uitgawes vir ’n munisipaliteit wat R50 000 000 skuld het.

As die munisipaliteit ’n projek soos die bou van ’n ordentlike dam bo in die kloof – bokant die huidige waterwerke – sou aanpak, kon ’n mens dalk waag om vir hulle daarmee te help.

Die bou van ’n dam is al baie jare bespreek, maar nooit uitgevoer nie. Ons ly nou al sewe jaar onder ’n droogte. Die berg kry soms water, wat na opvangdamme onderkant die reservoirs is; en onderkant die plakkershuise.

Die munisipaliteit moes na die uitbreek van Covid-19 darem ’n firma huur vir die verskaffing en bedryf van toiletgeriewe, wat glo sowat R60 000 per maand kos. Droë toilette sou seker goedkoper uitwerk?

Maar as ons al ’n dam bo in die kloof had, kon die plakkers en al die inwoners van Nissenvile én die dorp dalk nog leiwater óók gehad het.
’n Dam is absoluut noodsaaklik, want die mense word al meer en meer.
– Fanie, Kannaland

Uitstekende diens by verkeer

Ek het vandag uitstekende diens van die Oudtshoorn Verkeersdepartement ontvang.

Ek is skielik gestremd en gebruik suur­­stof. By die deur het ’n vriendelike dame my dadik ingelaat en het mev Weyers my daarna gou gehelp. Hul was baie bedagsaam en kan net met lof van hul praat.
– Daleen Wolfaardt, Oudtshoorn

Puik dorp!

Ons het ’n puik dorp, hitte ten spyt – die mense, koerante en baie besiens­waar­dighede, koffiewinkels en restaurante.

Kerke en skole tel onder die bestes.

Plaasboere, hoewel hul onder erge droog­te moet funksioneer, hou steeds moed. Ek salueer hulle almal, onder an­der vir Kobus Lategan – ’n merkwaar­dige man. Hy is die pa van sukses­volle kin­ders, en word eersdaags oupa van hul seun Jan en vroutjie Danielle se eerste­ling; en is ’n puik werkgewer wat werk­nemers laat deel in sy sukses.
– Magriet Coetzee, Oudtshoorn