OUDTSHOORN se motorklub het die naweek die dorp se Bome van Hoop-projek ’n verdere hupstoot gegee deur 56 bome op die terrein van die Oudtshoorn Ovaalbaan langs die R62 net buite die dorp te plant.
Een van dié bome is ’n wildevy (Ficus Natalensis) wat oorspronklik bedoel was om langs die R62 geplant te word waar die bekende skewe boom in 2019 deur die Departement Vervoer verwyder is. Toestemming om dié boom – wat sou bekend staan as die Boom van Eenheid – daar te plant kon egter nie verkry word nie as gevolg van wetgewing oor die aanplant van ’n boom langs die pad of binne gebiede langs die pad.
Volgens Henties de Villiers van die motorklub sal dié wildevy duidelik sigbaar wees van die R62 en is dit gelukkig ’n vinnig groeiende boom en word dit baie groot.
Die motorklub het die naweek ook 55 papierbasbome langs die pad wat van die R62 na die ovaalbaan lei asook langs die ovaalbaan self geplant en sal al dié bome water gee en onderhou.
• Dié Bome van Hoop-inisiatief is in 2019 deur die Oudtshoorn
Besigheidskamer geloods met die visie om 100 000 inheemse bome oor die volgende aantal jare op Oudtshoorn te plant, een vir elke inwoner. Al die bome wat geplant word, word op ’n register geplaas en het iemand wat daarna omsien.
Die projek is juis kort nadat die skewe boom verwyder is, geloods.
Jaco Vorster, voorsitter van die Oudtshoorn Besigheidskamer, sê dié boomprojek is ’n simbool van hoop en geloof in die toekoms.
“As jy ’n boom plant, doen jy dit nie vir vandag nie, maar vir die toekoms. Deur bome op Oudtshoorn te plant, sê ons dat ons hoop en geloof het in die toekoms van Oudtshoorn.” (Deur Liesel le Roux)
Boom van Eenheid kry ’n staanplek
Onder:
Dié Boom van Hoop, ’n wildevy wat oorspronklik die skewe boom langs die R62 (foto bo: Stefaan Verlinde) sou vervang het, het die naweek sy staanplek in die veld langs die R62 gevind. (Foto onder: verskaf)