’n NATUURLIKE vel- en haarsorgreeks met granaatpitolie as sterbestanddeel en ’n granaat “port” is die jongste produkte wat hulle oorsprong op die granaatplaas Celebratio buite Oudtshoorn het.
Granate, wat beskou word as ’n “supervrug” weens sy anti-inflammatoriese eienskappe en hoë persentasie anti-oksidante, is die afgelope paar jaar op verskeie plase in die omgewing aangeplant as deel van die Karoo Wonderful Pomegranates-groep. Produsente wat deel is van dié groep se granate word by Karoo Pak se pakstoor op Celebratio gesorteer en verpak vir die uitvoermark. Die sapgraadvrugte (dié met sonbrand en te veel merke) word op die plaas verwerk na produkte soos die granaat “port” genaamd “Karoo Pomegranate Rouge”. Van die pitte word die olie gedruk vir die vel- en haarsorgreeks “Karoo by Amy”.
Die Karoo by Amy-reeks is saam met Amy Kleinhans-Curd, oud-Mej. SA, ontwikkel. Amy het noue bande met Oudtshoorn en sy en haar man besit ook ’n granaatplaas buite Swellendam.
Volgens Gerhard Meyer, eienaar van Celebratio en direkteur van Karoo Pak, is dit van kardinale belang om die volle waardeketting van gewasse te ontsluit.
Karoo Pak is die enigste maatskappy in Suid-Afrika wat die volle granaatketting ontsluit.
“Ons eerste byproduk wat ons op die plaas vervaardig het was die 100% suiwer granaatsap. Dié sap, wat geen preserveermiddels bevat nie, word onder die handelsmerk Karoo Wonderful Pomegranate Juice bemark. Die sap is ook gekies om in Julie in New York aan die Fancy Food Show, die grootste handelskou in Amerika, deel te neem. Die terugvoer was fantasties – die Amerikaners (en ook die Suid-Afrikaners) is gewoond aan vrugtesap wat van konsentrate gemaak word en hulle kon nie genoeg kry van ons suiwer granaatsap nie. Ons het reeds ’n bestelling van ’n Amerikaanse handelaar vir volgende seisoen ontvang,” vertel Gerhard.
Met die suiwer granaatsap as basis het Gerhard die wynkelder De Krans op Calitzdorp genader om ’n granaat “port” te maak. De Krans is landwyd bekend vir hulle port en hulle het vir drie jaar na mekaar die toekenning vir die beste port in Suid-Afrika by die SA Jongwynskou ontvang. Die kelder het ook onlangs die Tony Mossop-trofee vir die beste port in SA in 2023 by die Investec Trophy Show gewen vir hulle 2020 Cape Vintage Port.
Die bekroonde wynmaker van De Krans, Christoff de Wet, altyd gretig vir ’n nuwe uitda-ging, het dadelik ingestem en met die granaatsap begin eksperimenteer. ’n Paar proeë later en ’n paar aanpassings en voila, Suid-Afrika se eerste granaat “port” (sover ’n eerste in Afrika) het die lig gesien! Dié unieke produk is by die Calitzdorp Expressed-fees in Julie bekend gestel. “Die terugvoer was baie positief,” vertel Gerhard.
So tusssendeur dit alles het Gerhard vir Amy Kleinhans-Curd genader oor sy idee vir ’n vel- sorgreeks met granaatpitolie. Gerhard was destyds Amy se bestuurder toe sy as Mej. Suid-Afrika gekroon is. “Amy was baie ontvanklik vir die idee en ons het dadelik die bal aan die rol gesit.” Die hulp van ’n laboratorium in die Kaap is ingeroep en die produkreeks, wat alles ’n bo-gemiddelde persentasie granaatpitolie bevat, is ontwikkel.
“Studies het bewys dat granaatpitolie ’n wonderkuur vir allerlei velprobleme is. Dit het fantastiese helende eienskappe en help onder andere vir sonvlekke, merke, velveroudering en droë vel en hare,” aldus Gerhard.
Die granaat “port” en die vel- en haarsorgreeks sal in September by ’n glansoggend saam met die tydskrif Bruis op Celebratio bekend gestel word. Die sprekers is die radio-omroeper Amore Bekker en die kruiekenner Antoinette Pienaar. Die sanger Jannie Moolman sal sorg vir die vermaak terwyl Amy meer oor die nuwe produkreeks sal uitwei.
Daar is slegs 300 kaartjies beskikbaar en meer as die helfte is reeds verkoop.
Vir meer inligting oor die produkte, kontak Gerhard Meyer by 082 802 7138. Vir kaartjies na die kuieroggend, kontak Sandra by 063 065 4875.
Velsorgreeks en “port” van granate in Klein Karoo gemaak
Amy Kleinhans-Curd, mede-skepper van Die Karoo by Amy-velsorgreeks.
Foto verskaf