Uit Die Hoorn se argiewe: 6 September 2001

Bo: Die blombak op die hoek van Baron van Reede - en Van der Rietstraat het alweer deurgeloop. Foto Garnett Wicomb

VOLGENDE keer is dit ’n kind wat doodgery word. So lui ’n voorbladberig in Die Hoorn van 6 September 2001, met die opskrif:
“Kyk na onveilige kruising!”.

Hier volg die res van die berig:
Dit was vandeesweek onder meer die reaksie van ontstoke Oudtshoorniete oor die gedrag van motorryers wat Baron van Reede as “renbaan” gebruik. Inwoners en sakelui van die straat kla al lank oor die wyse waarop daar in die straat gejaag word, veral saans en snags.

Die ontevredenheid is opnuut ontketen toe ’n jong man van Oudtshoorn op Dinsdag 28 Augustus 2001, van agter in die voertuig van mev Ida Schmitt gejaag en dit dwarsoor die pad deur die muur voor die Oakdene Gastehuis gestamp het. Nog ooggetuies het na vore gekom wat sê ’n rooi motor het saam met die jong man in sy Sierra straat afgejaag.

Geen klagtes word deur die Oudtshoorn Polisie teen die bestuurder van die Sierra ondersoek nie omdat volgens ’n woordvoerder geen klag ingedien is en niemand in die ongeluk ernstig beseer is nie.

Verder lui die berig dat Mev Karola Finke van Oudtshoorn Leather Products op die hoek van Baron van Reede- en Van der Rietstraat sê dat sedert die ongeluk laat sy nie meer haar kinders en hul maats toe om agter die muur langs Baron van Reedestraat te speel nie. “Ek raak vreesbevange as ek daaraan dink dat daardie motor deur ons muur kon bars en ’n kind kon doodgery het,” sê sy. Intussen lyk dit of die publiek nie veel hulp van die oe-werhede verantwoordelik vir Baron van Reedestraat te wagte kan wees nie.

Volgens mnr Juan Bredell, distrikspadingenieur van die Wes-Kaapse Departement van Vervoer, is die Oudtshoorn Munisipaliteit wel die owerheid verantwoordelik vir Baron van Reedestraat, maar subsidieer sy departement die onderhoud van die pad en moet hul goedkeuring eers verkry word voordat enige verkeerskalmering daar toegepas kan word.

Geen spoedbulte of vierrigtingstop mag volgens voorskrifte in so ’n openbare pad aangebring word nie en ’n robot kan slegs oorweeg word indien daar bv meer as ’n bepaalde getal botsings op ’n spesifieke kruising voorkom.

Uit die uittreksel blyk dit dat daar nie veel in die afgelope 22 jaar verander het nie.

Om meer te lees uit Die Hoorn se argiewe, besoek ons gerus by ons perseel in Hoogstraat 157. Kom kuier lekker voor die kaggelvuur en geniet van die ou stories oor Oudtshoorn. Wie weet, dalk lees jy jouself nog raak.