My vrese word bewaarheid…
Met ontvangs van munisipale rekening:
Die omstrede heffing tov aantal toilette per woning is terug. Skok: Vanaf toilet 1 betaal ons nou R81 meer.
As ’n woning 2 toilette het betaal ons nou 66% meer vir riool wat 11 keer meer is as amptelike inflasiekoers. Dieselfde syfers is van toepassing op vullisverwydering. ’n Normale huishouding gaan nou ten minste 22% meer betaal wat bykans vier keer meer is as amptelike inflasiekoers. Inwoners is hoogs ontsteld oor nuwe tariewe en het o.a. as volg gereageer: (Sommige reaksies verkies ek om nie hier te noem nie!)
Dit is ’n skande! Dit is belaglik! Ek stem nie weer vir hulle nie! Gaan nie meer ’n nuwe besigheid begin. Dra hulle nie kennis van die amptelike inflasiekoers nie?
Dit ontmoedig beleggings! Huishulpe kan werk verloor. Kyk hoe lyk Bloemstraat – stoptekens, straatname, ens.
– Piet.
Dit is met wrewel in my hart dat ek die brief skryf
Ek is ’n pensioenaris, en my enigste bron van inkomste is my staatspensioen en my dogter se kindertoelaag. Dit beloop nog nie eens R3 000 per maand nie.
Nadat die ANC regering aan bewind gekom het, het hulle ’n beleid ingestel waarvolgens die arm inwoners van ’n dorp gratis basiese dienste kry in ’n poging om die armoede te verlig. Vir die afgelope paar jaar nadat ek ongeskik verklaar is, het ek vir die deernis aansoek gedoen en dit ontvang. Ons het aanvanklik 70 eenhede elektrisiteit en 6 kiloliter water ontvang. Die Suid-Afrikaanse regering het hierdie dienste as kritiek beskou vir die arm gemeenskap.
Nadat die DA in 2016 aan bewind gekom het, is hierdie elektrisiteitseenhede verminder tot 50. Geen konsultasie of informasie aangaande die verandering is aan die gemeenskap deurgegee nie. Op ’n later stadium, gedurende die DA se termyn, is spanne uitgestuur na inwoners om hul krag- toevoer vanaf 30 ampére na 20 ampére te verlaag, met die duidelike boodskap dat diegene wat dit nie gaan toelaat nie, nie verder deernis sal ontvang nie. Mense is afgepers deur die plaaslike DA regering. Weereens sonder dat daar enige kom- munikasie met inwoners was.
Nou het hulle besluit dat geen deernis aan ’n persoon gegee sal word indien hy/sy ’n maatskappy/e in sy of haar naam geregistreer het nie. Volgens Bettie het die ouditeur-generaal dit uitgewys, en daarom het hulle besluit om diegene wat maatskappye op hul name het, se deernis te stop. Weereens, absoluut geen konsultasie nie, en niemand is ingelig nie.
Die ouditeur-generaal se verslae het al hoeveel keer uitgewys dat daar ’n ongoddelike aantal ure oortyd gewerk word. Het die munisipaliteit al iets daaraan gedoen? Lyk beslis nie so nie. Dis makliker om die arm mense by te kom.
Die gebrek aan konsultasie en informsie is ’n duidelike bewys dat die DA absoluut geen respek het vir die arm mense wie se stemme hulle soek gedurende verkiesings nie. Hulle behoeftes is nie belangrik as die DA nie daarby kan baat nie.
Is die ouditeur-generaal so onnosel dat hy nie weet dat meeste van hierdie maatskappye nog nooit enige kontrakte van enige aard gehad het nie?
Dat baie van die maatskappye op die webtuiste van die CIPC sal wys dit is aktief, maar dat die maatskappy nie funksioneer nie? Die wet sê as jy beweer, moet jy bewys. ’n Naam op ’n webtuiste is nie ’n bewys van ’n inkomste nie. Die munisipaliteit moet bewyse lewer van die inkomste. Ek is seker daarvan dat daar wel van hierdie deernis aansoeke goedgekeur is wat nie daarvoor kwalifiseer nie. Diegene moet definitief uitgelig word. Ek sal nie verbaas wees as daar selfs munisipale amptenare is wat deernis ontvang nie.
Wie is die onnosele amptenare by Oudtshoorn munisipaliteit wat besluit dat diegene wat maatskappye in hul name geregistreer het, verdien geld of het ’n inkomste sonder om seker te maak van die feite? Of is die idee bloot om mense se deernis weg te vat?
Ek skaam my vir Oudtshoorn munisipaliteit. Hulle is ’n klomp burokrate.
Hulle doen net soos hulle wil, met geen ontsag vir die inwoners nie.
Ons munisipaliteit se krag is hopeloos duurder as die dorpe rondom ons.
Dan het hulle nog die vermetelheid gehad om vir ’n groter verhoging te vra as wat Nersa aanbeveel het.
Ons grondbelasting dieselfde. Niemand kan meer byhou nie. Die ergste is dat diegene wat daar binne sit
en beleide verander en besluite maak soos dit hulle pas, nie bekommerd hoef te wees nie, want hulle verdien kleinhuisies vol geld.
Ek hoop die inwoners van Oudtshoorn staan op teen hierdie burokrate, en weerhou al die belasting en dienstegelde totdat daar kommunikasie tussen die munisipaliteit en die inwoners is.
Dinge word nou darem net te erg!
– Cornelia Blauw.
’n Gedig aan die wereld
Enkel ouers
al hoe lief
sy vir hom
is kan sy
hom nie
forseer om
by hulle
te bly
of om hom
verantwoordelik
te aanvaar nie
kliniek in en uit
terwyl jy meer
tyd spandeur
saam jou vriende
as die persoon
wat jy vernietig het
en alleen gelos het
jy laat haar alleen
deur die moeilike
tye gaan
sy huil haar
elke aand aan
die slaap
en blameer
haarself omdat
jy glo
groener veivelde
gaan soek het
jy belowe haar
die son en die maan
net om by die
sterre uit te kom
dis mense soos jy
wat ons se naam
sleg maak en die
rede is hoekom
dames swaar vat
om n persoon te vertrou
hoe slaap jy in die
aande grootman
elke oukie kan n pa
wees maar dit
vat n regte man
om n pappa
te wees
raak groot en wees n man
Deur : Adriahan Jacobs