Die vibrasie van die selfoon in sy broeksak laat hom koud. Hy mik-mik na die skerm.
Hy herken nie die nommer nie. Hy laat dit aanhou lui en lui.
Dan kom die vinnige vibrasie van die boodskap. “Waar is my donnerse geld?” Hy maak die boodskap vinnig toe asof hy dit nie gesien het nie. Sy oog vang die notifikasie en hy staar na die skermpie in sy palm.
Die faktuur oop op die skerm. Die bedrag enorm en agterstallig. Dan lui sy telefoon weer. Hy ken hierdie nommer, maar hy laat dit lui. Hy het nie dit wat die persoon aan die anderkant van hom verlang nie.
Die geluid van sy foon ruk sy blik terug na die rooi kolletjie langs die koevertjie op sy skerm. Die prokureursbrief slaan ’n hou na hom, maar teen hierdie tyd het hy al geleer om betyds te koes. Hy kners op sy tande. Hy lees verby die dreigemente en aanmanings.
Sy oë gly direk na die uitstaande bedrag. Onderhoud! Hy druk die foon meganies in sy sak. Sy oë stip voor hom uit. Rondom hom hoor hy die ge-klingel van glase en stemme en die masjiene.
Hy neem ’n sluk van sy whiskey, skoon, net met ys. En gluur dan weer in die rigting van die deler. “All bets closed…” hy loer oor na die roulette-wiel en sien hoe die wit balletjie onnatuurlike spronge tussen die slootjies maak en dan vassteek en knus in ’n slootjie gaan tol. “32 Red” Hoor hy.
’n Klein hopie plastiek munte word voor hom ingestoot.
Hy trek dit terug tot reg onder sy neus. Hy beduie met sy hand vir nog ’n whiskey. Ignoreer weer die vibrasie in sy broeksak. Dis asof hy dit makliker vind om te vergeet van die aanmanings en dreigemente wat agter die skerm skuil.
Hy stoot oudergewoonte die hopie terug na die posisie waar dit was. “All bets closed…” Die be-kende gebaar van die lang vingernaels wat die wiel aanhelp amuseer hom nie meer nie.
Die balletjie skiet in die teenoorgestelde rigting teen die draai van die wiel in. Hy kyk nie meer nie. Hy luister net. “30 Red.” Weer kom die hopie speelmunte terug na hom tot onder sy neus. Nou twee keer so groot. Hy stoot weer die hopie terug tot waar dit was.
Vir ’n oomblik wil ’n bietjie hoop hom inskiet. Hy gee vrye teuels aan sy verbeelding. As hy nog net vier keer op rooi kan val. Dan is hy ontslae van sy skuldlas. Ontslae van die knaende eposse en dreigemente van oorgewig prokureurs en lafhartige mans wat hul as sy dogter se stiefpa probeer voordoen. Ontslae van sy slapelose nagte… “32 Red…” Sy hopie raak groter. Ontslae van die kyk op sy dogter se gesig elke keer as sy tekortskiet. As sy naweek na naweek by haar alkoholis ma moet deurbring omdat hy nie kan bekostig om haar te kom optel nie.
“7 Red…” sy hopie word groter. Hy sal seker maak dat hy hul almal se grootbekke snoer as hy die geld voor hul neerplak. Die hele bedrag per rekening vereffen. Hulle almal in hul moer stuur… Vir Michelle haar sakgeld in die hand stop. Haar gaan verras met ’n vol tenk petrol. Haar hoor lag. Sien hoe haar ma hul agterna gluur. Sigaret in die hand.
“14 Red…” Die hopie skuif reg onder sy neus in, die toringtjie onstabiel, sodat een omtuimel. Hy skep dit vinnig op. Hy wil nie aandag op hom vestig nie. Hy stoot die wankelrige torinkie terug na sy bekende staanplek. Die sommetjies maal in sy kop. ’n Nuwe begin. Hy sal homself regruk as al hierdie skurke net eers van sy rug af is. Die kelner vra of hy nog ’n whiskey wil hê. “Nee dankie” hy is reeds besig om met sy nuwe lewe te begin.
“3 Red…”
Die deler skuif die enorme hoop voor hom in. Dit raak net net aan sy neus toe hy afkyk. Hy ruik die stank van ou sigaretrook. Kan hy so gelukkig wees? Kan dit so maklik wees? Hy vier sy vryheid in stilte tussen die geklingel en geluide van die wat rondom hom nog spook om los te kom. Hy sal hulle nie weer sien nie. Is dit ’n traan van geluk wat in sy ooghoek vorm? Hy kan nie seker wees nie.
Hy vorm bakhand sy onstabiele toring. Helderheid oorval hom, vooruitsig. Sal hy dit waag om te glimlag? As hy gelowig was sou hy oënskynlik glo dat sy gebede verhoor is. Hy druk-druk teen die munte wat nog nie netjies in die hopie pas nie. Stapel hulle almal in gelyke toringtjies. Hopies afgerond in sommetjies en getalletjies en oplos-sings. Dan skuif hy die hopie weer na waar dit voorheen gestaan het…
“All bets closed…”
“24 Black…”
Die vibrasie van die selfoon in sy broeksak laat hom koud… (Deur Johnny Malgas)
Kortverhaal: Rooi
Deur Johnny Malgas